Een van Agri Shalom se nuutste en grootste werktuie wat deur ’n trekker gesleep word, is sy hidrouliese kantelwa met ’n kapasiteit van 20 m3. Die wa word in Bloemfontein vervaardig.
Daar is veral aandag gegee aan sy robuustheid, duursaamheid en vermoë. Dié 15-tonner se hoë kante maak dit ideaal vir die vervoer van groot vragte graan, kuilvoer en ander plaasprodukte en benodigdhede – selfs gruis.
Die sterk onderstel, twee swaardiensasse met standaard- koeëllaers en vier 385/65R22.5-bande wat ook bykomende grondvryhoogte bied, gee die sleepwa sy indrukwekkende dravermoë. Dit spog met ’n hidrouliese swaardienskantelaksie agter vir die gerieflike en vinnige aflaai van vragte.