'n Beesboer se ervaring in die boubedryf het hom gehelp om 'n indrukwekkende nuwe eenmanskraal te bou. Hy het elemente van veekrale van oor die wêreld heen saamgevoeg.
Vroeër het die mense van die plaas Glen Doone buite Lady Grey, 'n hele dag lank met die beeste gewerk en dikwels in die misreën. Deesdae word 300 diere met gemak binne anderhalf uur in die bergplaas se nuwe krale gebrandmerk, behandel, geweeg, gesorteer en gelaai.
Dit is só ontwerp dat een mens ál dié werk kan doen as hulp nie beskikbaar is nie. Mnr. Marcel van der Merwe, voormalige boukontrakteur van Bloemfontein wat nou heeltyds op Glen Doone boer, het die gerieflike kraalkompleks ná nagte van navorsing en beplanning ontwerp.
Hy sê hy het aanvanklik verskuifbare krale gekoop om beeswerk op sy plaas te vergemaklik. Dit was egter steeds nie goed genoeg nie en hy het besluit om sy eie krale te ontwerp.
In die daaropvolgende speurtog het hy boeke van so ver as Australië bestel om die doeltreffendste elemente vir sy nuwe kraalkompleks te vind. Hy het dit uiteindelik teen 'n helling van sowat 5 % digby sy huis gebou. Die totale deursnee van die kraal is 38 meter.
'n Groot deel van die ontwerp, onder meer die hele drukgangdeel, is gegrond op dié van mnr. Louis van der Vyver van Queenstown. Van der Vyver was in 2001 die eerste wenner van Landbouweekblad se Boer met 'n Plan-kompetisie.
Die skaalkrat met sy nek- en lyfklamp in Van der Merwe se krale is 'n produk van 'n Mooirivierse onderneming. Só ook die sproeidip aan die een kant van die kraalkompleks. Die kompleks het 'n V-vormige ingang met twee swaaihekke wat toegang tot 'n ronde houkraal verleen. Die wigvorm verseker dat beeste nie aan die kante verby hardloop nie.
Meer as 300 beeste kan in die houkraal gejaag word. 'n Halfmaanvormige loopgang skei die houkraal en sewe wigvormige sorteer-en-hanteerkrale.
Die loopgang mond uit in 'n drukring, wat toegang tot die drukgang en twee laaibanke verleen.
Toegang tot die verskillende dele word met 25 swaaihekke beheer wat meestal na albei kante 'n kraal of gang kan afsluit, asook drie skuifhekke.
Die diere kan uit die loopgang ook deur 'n sproeidip gejaag word. Die paadjie hierheen is met ronde klippe in beton uitgelê. Twee insinkings op die paadjie dien as voetbaddens wat met water gevul word. Die klippe laat die diere se hoewe ooptrek sodat die modder tussen-in maklik uitspoel as hulle deur die voetbaddens loop.
Sodra hulle gedip is, beweeg hulle in die drukring in, wat in dié geval ook as droogdrup-gebied dien. Die ring het 'n sementvloer wat teen 'n helling gegooi is sodat die afdrupwater na die sproeidip se opvangput terugspoel.
Die afdrupwater word met twee oorloop-afskortings en 'n filter gesuiwer voordat dit weer in die laaste opvangput beland.
Uit die drukring kan siek diere ook vir spesiale versorging na 'n aparte kraaltjie afgekeer word.
Twee swaaihekke reguleer diere se vloei uit die drukring na óf die laaibanke óf die drukgang.
Die drukgang is presies volgens Van der Vyver se ontwerp. Dit is halfsirkelvormig en smal genoeg dat 'n bees nie kan omdraai of twee beeste weerskante van mekaar indruk nie. Dit is V-vormig om vir van kalwers tot groot bulle voorsiening te maak. Die onderste twee derdes is van beton om te keer dat die beeste hul pote tussen die dwarsrelings deursteek.
Die drukgang hou sowat 14 beeste en kan aan albei punte met skuifhekke gesluit word.
Die twee laaibanke is op verskillende hoogtes, om vir kleiner en groter voertuie voorsiening te maak. Elkeen het plek vir twee beeste om op die horisontale treeplatform agter mekaar te staan. Tussenin is 'n platform vir die hanteerder. Swaaiplatforms van staal verbind die laaibanke met voertuigbakke.
Die diere loop met trappies teen die laaibanke op omdat gevind is dat dit hul vloei vergemaklik.
Uit die drukgang beweeg die diere in 'n skaalkrat waar hulle elektronies geweeg kan word. Die skaalkrat bestaan uit 'n swaargeboude bul-weegskaal en 'n lyfklamp waarvan die sykante en panele heeltemal verwyderbaar is.
Die sluithek aan die agterkant van die lyfklamp bestaan uit twee dele, waarvan die boonste kan afsak sodat 'n koei wat sukkel om te kalf, byvoorbeeld gehelp kan word.
Alle toerusting en medisyne word in 'n dop van 'n mediese kliniekvoertuig reg langs die skaalkrat gebêre. Van der Merwe het die dop, wat op 'n bakkie gemonteer was, op 'n veiling opgespoor. Dit is volledig met rye rakke en kassies vir toerusting en medisyne. Hy het dit op 'n klipplatform onder 'n staaldak in die middel van die kraalkompleks vasgemessel. Krag is na dié "senusentrum" aangelê, waar alle beeswerk onderdak gedoen word. Hy het dit ook met 'n gasbottel toegerus en 'n gasbrander gemaak waarmee die diere in die skaalkrat gebrandmerk word.
Bokant die nekklamp het 'n werker 'n ou katrol aan 'n dakbalk gehang sodat die neusstang gerieflik met een hand opgehys kan word.
Sodra die nekklamp losgemaak word, tree die diere af teen 'n trappie van 200 mm in 'n sentrale, ronde sorteerhok. Die trappie is nodig om te verhoed dat hulle in die nekklamp-rondings vassit. Van hier kan hulle moeiteloos met die hulp van binneste swaaihekke na die verskillende omringende sorteerkrale uitgekeer word.
Van der Merwe het besluit die vee binne sy kraalkompleks moet anti-kloksgewys beweeg. Australiese navorsing het getoon dat die vloei van diere in dié rigting gladder is, sê hy.
Hy het 110 pale, waarvan heelwat ou telefoonpale, gebruik om die krale te bou. Die klippe vir die paadjie na die spuittoestel kom van ou land-kontoere.
Hy reken dat dit 'n boer R40 000 tot R50 000 behoort te kos om die hele kompleks te bou, maar meen dit kan veel goedkoper uitwerk as afval-boumateriaal gebruik word.
Hy sal die plan gratis beskikbaar stel aan enigeen wat vra, sê Van der Merwe. "Só baie boere het my gehelp om te begin boer. Dit is my manier om iets terug te gee." Van der Merwe kan by 082 445 9277 of 051 603 7035 gebel word.
18 Junie 2004