Toyota Vragmotors sal voortaan as Hino in Suid-Afrika bekend staan en dié vervaardiger toets tans sover bekend die eerste hibried-vragmotor onder Suid-Afrikaanse omstandighede.
Dié nuus is onlangs in Johannesburg bekend gemaak.
Dr. Johan van Zyl, voorsitter en uitvoerende hoof van Toyota Suid-Afrika, glo Hino se nuwe korporatiewe identiteit sal selfs 'n nóg sterker band tussen handelaars en kliënte smee omdat Hino-handelaars nou op vragmotors en gepaardgaande dienslewering kan fokus.
Tydens die geleentheid is ook aangekondig dat die uiters suksesvolle Toyota Dyna as die Hino 300-reeks bekend sal staan. Hino Suid-Afrika spog reeds met 53 handelaars landwyd in stede van die vorige situasie waar dit as Toyota Vragmotors sake gedoen en net 14 toegewyde swaarvragmotor-handelaars gehad het terwyl die passasiersmotor- en ligtehandelsvoertuig-handelaars al die Dyna-modelle verkoop het.
En dit is juis 'n Dyna met hibriede-aandrywing wat tans onder plaaslike toestande uitgetoets word. In hierdie baanbrekerswerk in vragmotorgeledere word die Dyna se dieselkragbron aangevul deur 'n elektriese motor. Hierdie toetsresultate sal uiteindelik bepaal of só 'n vragmotor as n produksiemodel vervaardig sal word.
28 April 2009