
Die ontwikkeling van dié soort trekkers is belangrik vir boere omdat dit nie net meer omgewingsvriendelik is nie, maar omdat hulle verskeie besparings vir boere in die hand werk. Die New Holland T6.140 Methane Power was New Holland se eerste-generasie metaangas-aangedrewe trekker en is gebasseer op die New Holland T6.140. Die trekker is in 2013 bekend gestel.
Die tweede-generasie T6 Methane Power is geskoei op New Holland se T6.175 trekker, maar klop die dieselaangedrewe model op ’n aantal terreine. Die T6 Methane Power is toegerus met Iveco se NEF ses-silinder enjin wat ’n kraglewering van 132 kW teen 1800 rpm gee met ’n wringkrag van 740 Nm teen 1500 rpm. Die New Holland T6.175trekker, daarenteen, lewer ’n maksimum 129 kW teen 1800 rpm. Boonop is die T6.175 se maksimum wringkrag 726 Nm teen 1500 rpm. Nege gastenks is aan die sykante en agter die kajuit van die T6 Methane Power aangebring om 300 liter, of 52 kilogram, se saamgepersde metaangas aan die enjin te verskaf.
Dit is gelykstaande aan ’n dieseltenk van sowat 60 liter en stel die trekker in staat om vir ’n halwe dag op ’n vol lading gas te werk. In Europa bied die T6 Methane Power ’n brandstofbesparing van tussen 20% tot 40% aan boere. Vulstasies bied diesel teen €1,40 per liter, terwyl die nasionale verspreidingsnetwerk vir metaangas se prys €0.98 per kilogram beloop.
Terselfdertyd verkry Europese boere ook ’n afslag vir landboudiesel en beloop die koste van diesel €0,80 per liter, terwyl die nasionale metaangasverspreidingsnetwerk metaangas wat vir landboudoeleindes aangewend word teen €0,50 per kilogram aan boere verskaf.
By La Belotta, waar biometaangas self vervaardig word, is die besparings selfs laer, met biometaangas wat sowat €0,40 per kilogram kos. In die geval van bio-metaangas word elektrisiteitsopwekkingssubsidies egter ook in berekening gebring om die brandstofkoste te verlaag. ’n Bykomende voordeel van die T6 Methane Power is die trekker se lae besoedelingsvoetspoor wat bykans 80% minder is as vergelykende dieselaangedrewe trekkermodelle.
Intussen sê mnr. Jaco du Preez, hoofverkoopsbestuurder van New Holland Suid-Afrika, dat metaangas-aangedrewe trekkermodelle nie in die afsienbare toekoms Suid-Afrika toe sal kom nie. “Op hierdie stadium is die metaangasmodelle, asook ’n waterstofselaangredrewe model, waarvan daar nog net twee gebou is, nog in die toetsfase. Daar sal dus nog heelwat navorsing gedoen moet word om die haalbaarheid van hierdie tipe trekkers in Suid-Afrikaanse omstandighede te bepaal,” sê hy.