
Trekkerverkope het in Maart vanjaar met 16% gedaal na 430 eenhede, nadat dit in Maart verlede jaar op 512 eenhede te staan gekom het.
Luidens ‘n verklaring van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie, het trekkerverkope in die eerste kwartaal van die jaar met 23% gedaal, vergeleke met dieselfde tydperk in 2009.
Stroperverkope ook af
Hoewel stroperverkope tussen Februarie en Maart vanjaar met vier eenhede toegeneem het, dui die verkoopsyfer vir die eerste kwartaal van 2010 ‘n daling van 35,4%, in vergelyking met die eerste kwartaal verlede jaar.
Die assosiasie voorspel dat stroperverkope vir die res van die jaar goed sal wees, met ’n verwagte mielie-oes van meer as 12 miljoen ton wat nou op landerye staan.
Laer verkope vir die res van die jaar
Boere bly versigtig met betrekking tot trekkeraankope. “Sodra hulle begin oes en weet hoe groot die oes gaan wees, sal hulle beter kan beplan vir vereiste toerusting vir die res van die jaar. Hoewel kommoditeitspryse steeds laag is, is dit relatief sterk in die lig van die volgehoue sterker rand.”
Na beraming binne die bedryf word verwag dat trekkerverkope vanjaar sowat 5 000 eenhede sal wees. Dit is sowat 10% laer as die aantal trekkers wat verlede jaar verkoop is.
Lees ook:
Minder stropers, trekkers verkoop
8 April 2010