
Trekkerverkope van 480 eenhede in September was byna 43% minder as die 840 eenhede wat in September verlede jaar verkoop is. Vir die jaar tot dusver is verkope nou byna 25% laer as wat dit vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar was.
Stroperverkope in September het ook skerp gedaal vergeleke met verlede September. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope nou 16% minder as wat dit gedurende dieselfde tydperk verlede jaar was.
Mnr. Leon Pretorius, voorsitter van die SA Landboumasjinerie-assosiasie, sê die skerp daling in verkope, vergeleke met verlede jaar, moet gesien word in die lig van buitengewone verkope van landboumasjinerie verlede jaar, veral in die laaste vier maande van die jaar. Die fundamentele aspekte wat die mark beïnvloed het nie veel verander in die afgelope maande nie.
Hy sê lae graanpryse wek steeds kommer en bankfinansiering is steeds moeilik bekombaar, maar die streng maatreëls is effens verlig.
Potensiële kopers van landboumasjinerie is steeds versigtig, ten spyte daarvan dat dit beslis ’n kopersmark is. Sodra die somerreën in alle erns begin en boere toerusting nodig het vir die voorbereiding van landerye en aanplant van gewasse, behoort die versigtige sentiment in die mark waarskynlik voort te duur.
7 Oktober 2009