
Die 2011-kalenderjaar vir die verkope van nuwe trekkers blyk sowat 10% tot 15% beter te wees as 2010.
Beter produktepryse, gunstige landboutoestande in die veebedryf en goeie vogreserwes, betreklik maklike finansiering en die sterk rand wat mededingende trekker- en werktuigpryse beteken, is die belangrikste redes hiervoor, sê mnr. Lane Reynolds, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie (SALMA).
Amper 6000
Volgens raming behoort tussen 5 600 en 5 900 nuwe trekkers vanjaar van vertoonlokale na plase geneem word. Die afgelope 12 maande se totale trekkerverkope van 5 593 nuwe eenhede (tot einde Mei) is aansienlik meer as die 12 maande se totale verkoopsyfer van 5 180 eenhede in die vorige jaar.
Mei se totale verkope van nuwe trekkers van 445 eenhede (uitvoer uitgesluit) was bykans 49% meer as die 299 eenhede wat in die ooreenstemmende maand verlede jaar verkoop is. In die eerste vyf maande van die jaar is byna 22% meer nuwe trekkers van die hand gesit as in die eerste vyf maande van 2010.
Sommige van die groter boere benut uiteraard die gunstige kooptoestande om hul trekkervlote te vervang. Met die onlangse redelik wydverspreide reën lyk die vooruitsigte vir aansienlike koringaanplantings ook goed. Dit is alles faktore wat die verkoopsyfer ondersteun en ’n hupstoot gee.
Sowat 38% meer stropers in Mei
Altesame 33 nuwe stropers is in Mei vanjaar verkoop. Dit is byna 38% meer as die 24 eenhede wat in Mei verlede jaar deur handelaars van die hand gesit is. Vanjaar is tot in Mei 124 stropers verkoop, wat bykans 9% meer is as die verkoopsyfer vir die eerste vyf maande van verlede jaar.
Reynolds sê die aansienlike vermindering in die waarde van die rand gedurende 2008 het veroorsaak dat pryse van trekkers, stropers, hooimaaktoerusting en ander landbouwerktuie skerp gestyg het. Op ’n jaargrondslag het die prysstygings in Februarie 2009 ’n hoogtepunt bereik.
Pryse het sedertdien stadig begin daal. Die algemene neiging van pryse was in Junie hoër teenoor die ooreenstemmende maand verlede jaar. Op ’n jaargrondslag sal die pryse op kort termyn styg na gelang van die waarde van die rand. Reynolds sê met saaiboerdery se winsmarges wat deesdae wêreldwyd toenemend onder druk kom, is spesifiek Suid-Afrikaanse saaiboere vir finansiële oorlewing verplig om hulle produksiekoste tot op die been te sny.
Moderne tegnologie
Gelukkig ondersteun die ontwikkeling van moderne tegnologie boere met nuwe enjinen ratkaskombinasies, minimumstrookbewerkingswerktuie, die geenbewerkingskonsep en GPS-presisieboerdery wat sterk toeneem en versoenbaar is met die jongste trekkers, planters, spuite en stropers.
Vir nuwe hooimaaktoerusting en ander landbouwerktuie word uit eie reg moderne tegnologie ingespan om bedryfskoste te minimaliseer. Kyk ’n mens na die totale prentjie is die gemeenskaplike doel om die saaiboer te ondersteun in sy strewe na winsgewendheid.
Dink maar aan die moderne stroper- en trekkerenjins waar turbo-aanjaers met veranderlike turbinevingeometrie, uitlaatgashersirkulasie, tussenverkoelers, drukbuistegnologie en elektroniese enjinbeheerstelsels asook palwisseltransmissies voortdurend sorg vir optimale kraglewering teen die mees ekonomiese dieselverbruik.
Voeg daarby die hele kwessie van GPS-tegnologie en presisieboerdery en ’n mens kan nie anders nie as om verstom te staan oor die verbeterde tegnologie waarmee vervaardigers telkens vorendag kom.
Moeilike strooptyd
Talle boere in die somersaaistreke waar milde reëns vanjaar buite die normale reëntyd geval het, beleef ’n uiters moeilike (mielie) strooptyd met stropers wat nie in die lande kan inkom nie en ook trekkers en stropers wat vasval.
Handelaars het baie navrae gehad oor die aanbring van rusperbande op stropers, die aanbring van dubbele voorwiele en vierwieltrekomboustelle om hul oes van die lande te kry.
Teen ’n koste van ongeveer R450 000 vir ’n stel stroperrusperbande is dit nogal ’n groot uitgawe vir ’n boer. Die dilemma vanjaar was egter dat feitlik geen plaaslike handelaar die rusperbande in voorraad hou nie omdat dit so duur is. En, om ’n stel van die buiteland in te bring kan tot ses weke duur.
Onkant gevang
Dit is dus geen wonder nie dat ’n handelaar opgemerk het dat vanjaar se uitsonderlike klimaatsomstandighede die bedryf so effe met die broek om die enkels gevang het. Niemand kon egter hierdie eienaardige seisoen voorspel nie.
Maar, sê Reynolds, daar is altyd lesse uit alles te leer en met toekomstige aankope kan dit net wees dat boere vanjaar se nat seisoen onthou en ’n volgende nuwe stroper toegerus met rusperbande bestel. In meer normale en droë toestande hou die rusperbande steeds ’n voordeel in, naamlik die vermindering van spoorverkeer en grondkompaksie.
In Europa met sy nat toestande word rusperbande meer algemeen gebruik. Dit is moontlik dat vanjaar se moeilike strooptoestande plaaslike boere kan oorreed om in die toekoms meer aandag daaraan te gee, sluit Reynolds af.
1 Augustus 2011