Windpompe is 'n alledaagse verskynsel op plase en dorpe. Tog word windpompe dikwels afgeskeep. Dit het gereelde onderhoud nodig om behoorlik te funksioneer.
Windpompe is oral langs die land se paaie, op plase en in dorpe te sien. Hulle word vereenselwig met die plaas- en plattelandse lewe in Suid-Afrika. In yl bewoonde streke, soos die Karoo, is hulle dikwels die enigste aanduiding wat verklap dat daar darem mense ook woon.
Tog is dit verbasend hoe min mense daaraan dink dat hul windpompe onderhewig is aan slytasie, en ook soms nuwe olie en algemene onderhoudswerk nodig het, sê mnr. Hannes Esterhuizen van Richmond in die Karoo.
Hy is die eienaar van Oryx Business Trust, een van die min ondernemings in die land wat windpompe herstel en versien.
Esterhuizen het sowat ses jaar gelede besef dat baie boere 'n groot gebrek aan kennis van windpompe het. Talle windpompe in daardie droë deel van die land werk swak of glad nie. Wanneer ondersoek ingestel word, is dit dikwels 'n klein probleempie of bloot 'n gebrek aan onderhoud wat veroorsaak dat die windpomp nie meer lewensbelangrike water lewer nie.
Min boere besef hoe gereelde onderhoudswerk die lewe van hul windpompe op die plaas kan verleng.
'n Windpomp is dikwels die mees verwaarloosde meganiese ding op die plaas, meen hy.
Die basiese beginsels van goeie windpomponderhoud is die volgende :
Esterhuizen sê dit neem gemiddeld tot 120 minute om 'n normale versieningsdiens op 'n windpomp te doen mits dit in 'n goeie werkende toestand is. 'n Gemiddelde diens kos sowat R250, maar 'n hersteldiens om 'n erg verwaarloosde windpomp weer goed te laat werk, kan 'n boer tot R10 000 uit die sak jaag.
'n Windpomp van 'n gemiddelde grootte en 'n wiel van 3,3 m in deursnee kos vandag sowat R15 000. Dit sou daarom dom wees van 'n boer om só 'n belegging eenvoudig te verwaarloos en te laat agteruitgaan. Water is belangrik, en 'n windpomp wat nie behoorlik werk nie, kan nie behoorlik water pomp nie.
Esterhuizen het 'n windpomp op mnr. Vettie Esterhuizen - sy pa - se plaas Poortjie in die distrik Victoria-Wes deeglik opgeknap toe Landbouweekblad daar was. Nadat hy die kop, stert en wiel afgehaal en onderhoudswerk op die grond gedoen het, is alles weer stelselmatig volgens 'n sekere volgorde inmekaar gesit sodat dit tot op die toring opgehys kan word.
Die eerste stap om alles weer terug in posisie te kry, is om die ratkasomhulsel met die ratte daarbinne met 'n ketting aan 'n katrolstelsel te koppel, soos in foto 1 gesien kan word.
Hierna moet die stert aangesit word. Die stert word aan die kop gekoppel, en dan met 'n ketting - gewoonlik 'n deel van dieselfde ketting waarmee die kop aan die katrol gekoppel word - op só 'n manier vasgemaak dat die wiel en stert in balans is vir die ophys-slag. Foto 2 toon hoe die stert vasgemaak moet word in 'n posisie 180 ° teenoor die wiel, wat laaste aangesit word voordat alles na bo gehys word.
Op foto 3 plaas Esterhuizen die wiel se speke in posisie sodat die vellings daaraan gekoppel kan word. Wanneer die vellings aangesit word, moet gesorg word dat velling twee aan die buitekant van velling een gekoppel word, en velling drie aan die buitekant van velling twee, soos foto 4 op bl. 31 aantoon.
Die laaste seksie, velling ses, se punt word aan velling een gekoppel (foto 5 op bl. 31). Dit is belangrik dat velling ses se punt aan die binnekant en velling een s'n aan die buitekant gekoppel word om die wiel in balans te kry.
Nadat die wiel aanmekaar gesit en aan die ratkasomhulsel gekoppel is, kan alles met die katrol opgehys word. Die katrolstelsel is bo-op die toring aan 'n spesiale "pyp-arm" vas, wat met klampe aan die toring gekoppel word. Dit sorg dat die kop met wiel en stert nie regstreeks teen die toring opgehys word en dalk kan seerkry nie, maar dat dit 'n entjie weg van die toring af opgehys word, soos foto 6 op bl. 31 en foto 7 hierbo aantoon.
As die kop in posisie is, word dit met 'n sluitmoer vasgedraai en die kopstaaf word gekoppel.
Die wiel word hierna stadig met die hand in die rondte gedraai om te kyk dat die ratte reg werk. Nou kan windpompolie ingegooi en die deksel van die ratkas bo-oor die kop vasgeskroef word (foto 8).
En, siedaar, 'n gelukkige windpomp wat 'n versieningsdiens gehad het wat hom die volgende jaar doeltreffend water uit die droë Karoogrond sal laat pomp.
Eintlik is dit baie eenvoudig, sê Esterhuizen. Die boer hoef net die volgende te onthou: Kyk gereeld dat alle boute vas is en sorg dat die windpomp se olie reg is. Dan sal die windpomp soveel beter diens lewer.
6 Augustus 2004