
Moontlike veranderinge aan regulasies van die Nasionale Verkeerswet oor ’n verminderde asbelading op sekondêre paaie kan verreikende gevolge vir die land se padvervoerstelsel inhou. Die Departement van Vervoer vra kommentaar van alle padvervoer-rolspelers oor ’n moontlike wetswysiging om die druk op en beskadiging van sekondêre paaie te verlig.
Mnr. N.A. Thoka, die waarnemende hoofdirekteur van padverkeersregulasies, sê die departement ondersoek die beskadiging van sekondêre padnetwerke en kyk in dié proses na die moontlikheid om die asbelading van vragmotors te verlaag. Die huidige asbelading vir ’n enkelas met vier wiele is 9 000 kg ingevolge die Verkeerswet (Wet no. 93 van 1996) en die departement oorweeg nou om dit te verlaag na 8 000 kg.
Me. Lindie Stroebel van die Landboubesigheidskamer (LBK) sê die moontlike veranderinge kan verreikende gevolge inhou vir die totale padvervoerstelsel, maar veral vir die landbou- en bosboubedrywe wat méér sekondêre paaie gebruik.
Kommentaar kan gelewer word aan mnr. N.A. Thoka, Departement van Vervoer, Forum-gebou, H/v Bosman- en Strubenstraat, Pretoria. Mnr. Thoka se telefoonnommer is 012 309 3764, sy faksnommer is 012 309 3962 en sy e-posadres is thokan@dot.gov.za .
15 Oktober 2009