'n Doeltreffende, goedkoop voerkrip waarin voer nie vrot of sleg kan word, wat nie nat bly en roes nie en wat binne 'n dag gebou kan word, is vir 'n melkboer van die Noordoos-Vrystaat van groot waarde.
Met 'n stewige voerkrip van houtpale en skadunet het mnr. Francois Kok van die plaas Pypkop, Warden, 'n probleem uitgeskakel met kuilvoer wat vrot word van te veel vog in die voerkrip en krippe wat laag op die grond is en ongemaklik is vir koeie om by te vreet.
Hy het voorheen 'n gewone staalkrip gebruik, maar gevind wanneer dit reën of selfs net dou of ryp, word die voer in die krip nat. Die vog gaan lê onderin die krip en die voer verrot naderhand. Dit help nie om net vars voer bo-op te gooi nie, want dit ruik onaangenaam en die diere wil dit nie vreet nie en dit kan selfs siektes veroorsaak. Die vog en hoë suurgehalte van kuilvoer verkort ook 'n staalkrip se leeftyd.
Die krip word deels van houtpale op die plaas en behandelde pale gemaak. Die raam word met boute en moere aan mekaar geheg - wat 'n baie sterk raamwerk vorm. Die pale word geplant, maar kan taamlik maklik verskuif word. Die skadunet word met spykers wat halfpad ingeslaan en omgeklink word, aan die dwarspale geheg. Dit kan egter met tou ook vasgemaak word.
Die krip is 10 m lank en 1,2 m wyd om by die skadunet se wydte aan te pas. Op dié wydte hang die net presies reg. Hy gebruik skadunet met 'n digtheid van 80 %, wat sterk genoeg is om 'n groot hoeveelheid voer te dra en dig genoeg is dat die voersorghum in die kuilvoer se fyn sade nie deurval nie. In sy krip kan hy die voer hoog laai.
Kok sê van die voordele is dat die net op 'n meter van die grond af 'n gemaklike hoogte vir die koeie is om te vreet. Dit is nie op die grond soos sommige staalkrippe nie. Die beeste kan ook nie daarin trap nie. 'n Dwarspaal keer dat die beeste in die krip klim, maar is op 'n gerieflike hoogte sodat hulle maklik kan vreet.
Omdat die koeie meestal al die voer opvreet, word minder weggegooi, wat 'n besparing meebring. Geen verrotte voer bly op die grond lê soos wat dikwels die geval met 'n staalkrip is nie. Die houtkrippe hoef nie so gereeld skoongemaak te word nie, wat 'n besparing aan arbeid en voer beteken. Selfs die skoonmaakproses is eenvoudig, want die skadunet word net uitgeskud.
Kok sê sy krip van 10 m is baie goedkoper as 'n staalkrip wat R2 400 kos vir 'n krip van 2,4 m. Sy materiaal het R650 gekos en hy het met die hulp van plaaswerkers die krip binne 'n dag gebou. Hoewel hy dit vir sy melkbeeste gebruik, is die krip ook geskik vir voerkrale.
23 September 2005