As jy op die oostelike Hoëveld boer,
vra jou bure lankal nie meer óf jy
voorbrande gaan maak nie, maar
wánnéér jy jou voorbrande gaan
maak.
Met verlede winter se talle verwoestende
wegholbrande nog vars in die geheue
het mnr. Pieter Hurter van die plaas Nooitgesien
in die distrik Volksrust weer besin
oor die beslommernis en stygende koste
wat die maak van voorbrande meebring.
Terloops, Hurter bedryf 'n gemengde boerdery
met 'n skaap- en beeskomponent asook
'n saaiery. Hy plant mielies, hawer, tef
en oulandsgras.
Kortliks behels die maak van voorbrande
dat twee stroke veld of sogenaamde voor-voorbrandbane,
elkeen omtrent 500 mm
breed, langs mekaar met plantdoder bespuit
word terwyl die gras nog groen is.
Die afstand tussen hierdie twee stroke
bepaal die breedte van die uiteindelike
voorbrandbaan. Tot dusver is die plantdoder
op Nooitgesien met rugsakspuite of 'n
trekkerspuit toegedien, soos wat dit op die
meeste plase die geval is. Later, wanneer
die plante op die bespuite stroke gevrek het
en die plante op die middelste gedeelte dormant
is, word dit in beheerde toestande en
met die nodige voorsorg gebrand wanneer
die weer dit toelaat. Die twee bespuite stroke
voorkom dat die vuur uit die voorbrandbaan
na die aangrensende veld "spring".
Hurter sê met arbeid wat skaarser en
duurder word, asook die dieselprys wat
besig is om handuit te ruk, moes hy eenvoudig
'n plan bedink om die koste van
voorbrande hok te slaan.
Sy twee grootste oorwegings was om sy
trekkerspuit minder te gebruik (en selfs uit
te skakel indien moontlik) weens die koste
van diesel. Hy wou ook die rugsakspuite
vervang deur iets wat die taak vinniger en
doeltreffender sou doen. 'n Rugsakspuit is
net so doeltreffend as die hand wat dit beheer.
Daar word ook dikwels kolle oorgeslaan
of onnodig baie plantdoder word op
een plek gespuit.
Nadat hy 'n slag deur sy werkwinkel
gestap en 'n oorbodige elektriese pompie,
'n ekstra 12 V-battery en 'n paar ysters en goeters raakgesien het, het die plan vir sy eie voorbrandbaanspuit
in sy kop begin vorm. Die 12 V-pompie, met 'n vermoë van agt liter
per minuut, is vroeër gebruik om chemikalieë op nat voer te spuit
wanneer dit gebaal word. Hierdie spuitvolume is net mooi voldoende
om plantdoder doeltreffend teen stappas oor 'n breedte van
500mm toe te dien. Hy het ook 'n aan-/af-skakelaar, 'n stuk plastiekdrukpyp,
'n 20 liter-houer en twee sproeikoppe uit sy werkwinkel
opgediep.
Al wat op die dorp gekry moes word, was 'n trapfietswiel en 'n
kraantjie om vloeistofdruk in die stelsel te handhaaf.
Die ruggraat van Hurter se voorbrandspuit is 'n kruiwatipe onderstel
wat hy met 'n elektriese sweismasjien uit 'n paar stukke
staal saamgeflans het. Aan die voorkant is voorsiening gemaak vir
'n groterige fietswiel en aan die agterkant is twee handvatsels. Boop
die onderstel is 'n stewige raamwerk vasgesweis wat die 20 liter-
gifhouer huisves. Aan die voorkant van hierdie raamwerk is 'n
monteerplaat waaraan die elektriese pompie vasgebout is. Agter die
raamwerk het Hurter hoekyster gebruik vir 'n netjiese raamwerk wat
hy op die onderstel vasgesweis het as staanplek vir die 12 V-battery.
Aan die een kant is 'n spuitbalk vasgesweis met monteerpunte vir
die twee sproeiers.
'n Stuk hoëdruk-plastiekpyp verbind die gifhouer met die pomp
en ook die pomp met die twee sproeiers. Die monteerpunte vir die
sproeiers is só op die spuitbalk geplaas dat 'n baan van 500 mm bespuit
word. Tussen die pomp en die sproeiers is 'n kraantjie aangebring
wat voorkom dat die stelsel vanself dreineer en dan telkens
voor gebruik gebloei moet word. Die elektriese bedrading tussen
die battery en die pomp is eenvoudig en spog selfs met 'n aan-/af-skakelaar!
Volgens Hurter werk sy voorbrandspuit baie goed en kan hy
daarmee op moeilike plekke spuit waar die trekkerspuit nie kan inkom
nie. Die voorbrandbaanspuit lewer ook 'n beter bedekking met
minder vermorsing as wanneer rugsakspuite gebruik word. Met
20 liter gifstof kan die voorbrandbaanspuit 'n strook van 500mm oor
2 km toedien. En die battery hou genoeg krag om die pompie 'n hele
dag lank te laat werk, sê Hurter.
En wat het die materiaal gekos waarmee die voorbrandbaanspuit
gebou is?
Nie te veel nie, sê Hurter, want hy het die meeste daarvan reeds gehad.
As 'n mens egter 'n volledige kosteraming (arbeid uitgesluit)
wil maak, sou die volgende 'n realistiese berekening kon wees:
Hoewel Hurter tevrede is met sy voorbrandbaanspuit, wil hy nog
die vaste spuitbalk met 'n skarnierverbinding aanpas sodat dit tot
90 grade opgelig kan word as die operateur met hoër grasse en bosse
te doene kry. Dit sal 'n klein aanpassing wees wat die bruikbaarheid
van die spuit aansienlik sal verbeter.
Nuus oor Hurter se voorbrandbaanspuit het soos die spreekwoordelike
veldbrand in die omgewing versprei. Etlike bure en ander
boere van die omgewing stel nou belang om self só 'n spuit aan
te skaf.
Hurter het ook besoek gehad van 'n groep opkomende boere uit
die omgewing. Hulle wil hê hy moet nog 'n spuitbalk aan die ander
kant aanbring sodat hulle onkruid in hul mielielande daarmee kan
bespuit.
"Dit kan sommer maklik gedoen word. 'n Mens het net 'n sterker
pompie nodig wat vier sproeiers kan bedien. Een wat so 12,5 liter
per minuut kan lewer behoort die ding te doen, " sê hierdie boer vol
planne.
e-pos: nooitgesien@mweb.co.za.
Landbouweekblad, 16 Mei 2008