
Die wêreldmark vir nuwe trekkers en ander landouwerktuie het verlede jaar (2013) gesond gegroei danksy 'n toename in meganisasie in die algemeen en ook 'n groter vraag na trekkers en werktuie uit die ontwikkelende wêreld, sê die Agri-Evolution Alliance (AEA), 'n internasionale organisasie wat landboutoerustingvervaardigers van verskillende lande verteenwoordig.
Volgens die AEA het die wêreldmark vir nuwe trekkers verlede jaar met 10% tot 2 150 000 eenhede gegroei wat die neiging na groter meganisasie wêreldwyd weerspieël.
Die grootste markte vir nuwe trekkers in 2013 was Indië en China wat met sowat 15% elk gegroei het en waar onderskeidelik 619 000 en 445 000 nuwe trekkers van die hand gesit is. Hoewel dit rekord-verkoopsvlakke vir dié twee lande is, het die groeitempo in China effe verlangsaam teenoor die geweldige ontwikkeling van die afgelope dekade.
Met ’n nasionale verkoopsyfer van 65 000 nuwe trekkers was Brasilië verlede jaar die land waar die derde meeste nuwe trekkers aangeskaf is.
Sterker verkoopsneigings het ook in Noord-Amerika, Turkye en Japan voorgekom. Die Europese mark het in die tweede helfte van die jaar effe afgeplat met slegs 'n geringe styging in die totale verkoopsyfer vir 2013.
Die AEA meen dat die vraag na nuwe trekkers en ander landbouwerktuie vanjaar relatief goed sal bly weens die algemene uitbreiding van die landbousektor wat na hoër opbrengste en skaalekonomieë streef.
In die algemeen is produsente in die meeste landboukommoditeite tevrede met die huidige produktepryse wat tog die grondslag vorm vir enige nuwe beleggings.
Die eenheidsverkope vir vanjaar sal waarskynlik effe laer wees as die hoë verkoopsyfer vir 2013, maar dit kan wel Amerika se $125 miljard-kerf haal, reken die AEA.