Op die naasgrootste werktuigskou in Brasilië was daar geen ploeg te sien nie, want dit is in die hartland van geenbewerkingstelsels waar 95 % van die boere hulle ploeë gebêre het en nou in die oesreste en stoppels werk om hul grond teen erosie te beskerm en ook die struktuur daarvan te verbeter.
In die program vir ons besoek aan Brasilië is aangedui dat ons 'n tipiese landbouskou gaan besoek. In my geestesoog het ek honderde Brahmane, ander snaakse plaasdiere en dansende meisies in veelkleurig wye rompe gesien.
Toe ons voor die hekke stilhou van die Cotrijal-skou, so 'n uur se ry van Passo Fundo in die mees suidelike staat van Brasilië, was dit net die veelkleurige lap van my verbeeldingsprentjie wat daar was, maar in die vorm van honderde vlae. Is die Brasiliane nie trots op hul landsvlag en die vlae van hul ondernemings nie!
En binne sien ons die netjiesste implementeskou waarop ek nog was. Keurige uitstallings, skoon geplaveide paadjies, interessante en aantreklike uitstallings, skoon drinkwater uit kraanfonteintjies elke sowat 100 meter, skoon badkamers en nie 'n papiertjie wat rondlê nie. Én toegang is gratis! Ons is in die hartland van geenbewerking. 'n Heuwelagtige gebied met baie hoë reënval waar gronderosie die boere gedwing het om 'n alternatief vir die ploeg te soek. Waar die regering, wetenskaplikes, vervaardigers en boere saamgespan het om 'n stelsel te ontwikkel wat die milde reën kan vasvang en die vrugbare grond weer los en gewasvriendelik kon maak.
Die resultate van daardie samewerking en vindingrykheid is op die skou te sien, veral planters, spuittoerusting en bemestingtoedieners wat ideaal inpas by die benadering van so min grondversteuring as moontlik vir 'n volhoubare boerderystelsel wat goeie opbrengste en winste oor die lang termyn sal verseker.
Derduisende besoek skou
Aan die stuur van die merkwaardige werktuigskou staan mnr. Gelson Melo de Lima. Hy sê die skou is nou agt jaar oud en die grond en infrastruktuur is verskaf deur landboukoöperasies van die omgewing met 4 000 lede.
Uitstallers betaal vir hul uitstalruimtes maar die bestuur poog om met borgskappe dit binne die bereik van almal te hou en kry hulle dit reg om toegang vir besoekers gratis te hou.
Die skou word elke jaar oor vyf dae aangebied en die oogmerk is om net mense te lok wat werklik in die landbou belang stel. Daarom is daar geen vlooimarkte of uitstallings wat van ander bedrywe nie. Só kry hulle dit reg om gemiddeld 120 000 mense oor die vyf dae te lok.
Lede van die koöperasies plant die gewasse wat tydens die demonstrasies gebruik word en daar is elke dag gewasse beskikbaar om van kuilvoerkerwers tot stropers in aksie te vertoon en dan is daar ook grond met oesreste op om die planters en kunsmisstrooiers vir geenbewerkingstelsels te laat werk.
- Die volledige artikel oor Andries Gouws se besoek aan die skou word in die Landbouweekblad-uitgawe van 1 Junie gepubliseer.
21 Mei 2007