
Die jaarlikse landbouveterane-ekspo van die Wes-Kaapse Veteraan-trekker-en-enjinklub is op 7 en 8 Augustus op Villiersdorp gehou. Die weer het saamgespeel en duisende besoekers het oor die twee dae die beste van die streek bewonder.
Omdat die Wes-Kaapse klub die beleid het dat so veel as moontlik inskrywings gebruik en gedemonstreer word, in stede van slegs statiese uitstallings te maak, het die expo gelewe. Die waardering wat besoekers hiervoor het, is telkemale uitgespreek.
Op die meegaande foto verskyn mnr. Petrus Roux vanVilliersdorp en sy Lanz Bulldog. Die foto is deur Hennie Richter geneem.
Slegs sowat 150 trekkers is ingeskryf. Die taai ekonomiese tye wat almal beleef, het ‘n veroorsaak dat lede minder inskrywings gebring het, maar steeds hul mees uitsonderlikes. En uitsonderlik wás dit. Sommige besoekers het op die expo uitgevind dat Porsche ook ‘n gerekende trekkernaam was ‘n halfeeu gelede. Twee modelle Porsche trekkers is uitgestal. En so is ‘n tweesilinder Kramer, deur ‘n klublid van ‘n Duitse immigrant gekoop, ook opgemerk.
Hoewel die klub nie veteraanmotors beoordeel nie, word motors, veral van klublede, ook uitgestal. En om die plaaslike motors geselskap te hou, is die GSM Dart-klub vanjaar spesiaal genooi. Dié Suid-Afrikaanse ikoon onder sportmotors, waarvan daar minder as 300 eenhede vervaardig is, was ‘n groot treffer.
Nog ‘n groot treffer, en ‘n bewaringsprestasie in wording, was die Commer vragmotor met seker van die mees uitsonderlike masjiene wat ooit vervaardig is. Die masjien, ‘n tweeslag-driesilinder met ses suiers het selfs kenners verstom. Dié restoursieprojek is nog nie voltooi nie, met die gevolg dat die masjien nog oop was vir die kopskuddende besoekers om te bekyk en te probeer verstaan.
Kobus Groenewald van Stilbaai word landwyd as ‘n restoureerder van uitnemendheid gesien. Sy werk was weer eens van die beste op die expo. Hy en sy seun, Gielie, was verantwoordelik vir die beste trekker, implement en stilstaande enjin. Die bes gerestoureerde vragmotor van die skou was die 1945 Dodge lorrie van Earl Buntmann van Breërivier.
Die dorsdemonstrasie waar ‘n stoomtrekker ‘n Ransomes dorsmasjien aangedryf het, kan net op een ander plek in die land geëwenaar word, en dit is in die Oos-Vrystaat.
Net om te bevestig dat die Wes-Kaapse lede van die tradisionele “trekkerklub” ‘n veel wyer belangstellingsveld het as trekkers, was daar vanjaar drie uitstallings van gereedskap en huishoudelike artikels, sowel as ‘n foto-uitstalling van ‘n geskiedkundige aard.
Klik hier vir 'n fotogalery van pragtige veteraanmasjinerie by Villiersdorp.
24 Augustus 2009