Vraag:
Ek wil graag meer oor die werking van windpompe leer, om sodoende al die windpompe op my plaas self te diens. Waar kan ek 'n gids of boek oor die werking van windpompe in die hande kry? - Henk (hskl@telkomsa.net)
Die onderstaande verduideliking is saamgestel uit twee antwoorde wat aan die forum gestuur is deur Andre Terre'Blanche en Lukas:
Andre skryf: 'n Goeie windpomp kan met die minimum van aandag maklik 60 of 70 jaar of selfs langer hou. Om dié rede sal jy dit baie moeilik vind om nog handleidings vir windpompe wat alreeds tientalle jare gelede opgerig is, te kry. Maar ek dink nie dit is 'n probleem nie. Die werkende dele van windpompe is maar basies almal dieselfde, redelik eenvoudig en werk almal teen lae spoed met baie min slytasie.
As ek jou 'n paar riglyne uit eie ondervinding kan gee, sal dit jou hopelik alreeds kan help om die windpompe op jou plaas te versien.
'n Toring wat goed opgerig is, het byna geen onderhoud nodig nie. Tussen die bene aan elke kant is daar gewoonlik in 'n X vorm, redelike sterk ronde of gewone plat staal stawe, van heel onder tot heel bo. Kyk maar dat hierdie elemente stewig is. Dit kan gebeur dat iemand op die plaas 'n stuk staal nodig gehad het en dit was dan maklik om een van hierdie stutte, wat op 'n vorige geleentheid alreeds losgemaak was om onder die windpomp te werk en toe nooit weer vasgebout is nie, af te haal om die sleepwa of die donkiekar te herstel. Hierdie stutte is met 'n doel daar.
Lukas skryf: Ek probeer, maar kry dit ook nie reg nie, om die windpomp se bene wat in die grond is, met sement te bedek tot bo-op die grond oppervlak. Ek het ondervind dat die bene af roes net onder die grond oppervlak. Gewoontlik is die sement gedeelte dieper onder die grond om die onderpunt van die voet. Ek maak die been oop tot op die ou sement, maak dit skurf en giet sement om die been tot bo die grond oppervlak. Ek gebruik sommer 'n 20 liter olie kan as vorm vir die sement. Voorkom dat die windpomp water mors in die toring!
Andre: Die platvorm aan die bopunt van die toring, net onder die wiel, is gewoonlik van hout wat in die wind en die weer oor jare begin verweer. Dis belangrik dat hierdie platvormpie stewig moet wees want dit is waarop jy gaan staan as jy aan die bewegende dele van die pomp wil werk. Vervang maar die hout soos en wanneer nodig.
Lukas: As ek olie afgetap het, gooi ek van die olie op die platform uit, as ons klaar gewerk het, en verf die platvorm met die ou olie. Ek smeer ghries aan die houtstang waar hy teen gidse verby beweeg.
Andre: Die wiel dryf 'n stel ratte en 'n kruk-as aan, wat die suier onder in die boorgat deur middel van die stange op en af laat beweeg. Hierdie ratte werk in 'n oliebak soos die oliebak van jou motor. Bo-oor die oliebak is daar 'n bak of 'n deksel om die smeermiddel en die ratte in die oliebak te beskerm teen wind en weer. Hierdie bak is maklik verwyderbaar, gewoonlik met net een of twee boude wat dit in posisie hou. Vervang tog maar die olie in die bak ten minste een keer per jaar. Ratkasolie of olie soos wat jy in jou bakkie se ewenaar gebruik, is ideaal. So nie kan jy maar enige goeie veeldoel-olie gebruik. Iewers aan die onderkant van die bak sal daar 'n prop wees waardeur jy die ou olie kan aftap. Tap dit tog maar deur 'n goeie tregter in 'n houer. Olie strepe wat teen die bene van die windpomp afloop lyk nie net onooglik nie maar kan ook gevaarlik wees.
Lukas: Ek vervang olie so elke 3 jr met die goedkoopste motorolie wat ek kan kry. Smeer olie en ghries aan alle bewegende dele buite die kop soos die stertpen, rollers van remketting, rem yster om die maspyp, asook aan die rem ysters waar dit deur opening beweeg ens. Ek smeer self aan die remketting waar dit oor die rollerse loop bietjie ghries sodat dit maklik kan beweeg. Jy kan ook die remkatrol wat onder die toring sit, ghries of olie.
Andre: Sommige windpompe het 'n ghrieskop op die "draaitafel" (dis die meganisme waarop die kop homself in die rigting van die wind draai). As daar nie so iets is nie, smeer maar 'n bietjie ghries aan hierdie bewegende dele.
Lukas: Voel of die kop lig draai, anders kan die laer van die draaitafel stukkend wees.
Dit is die kragbron
Andre: Die wiel is die kragbron en moet in 'n goeie toestand gehou word. Weer eens is daar geen geheim aan nie. Sorg maar dat daar nie los boude en/of moere is nie - as so 'n boud aan die wiel eers begin los raak neem dit nie lank voordat die hele spul verflenter is nie. Die wiel, soos ook al die ander staal dele, van 'n goeie windpomp is gewoonlik swaar gegalvaniseer en sal roes vir baie jare weerstaan. As tekens van roes begin verskyn, verf maar met 'n goeie verf. Deesdae is dit mode om die wiel veelkleurig te verf. Baie mense vind dit aantreklik - ekself is egter te outyds daarvoor.
Lukas: Voel aan die wiel of die laers binne die kop nog reg is. Die wiel moet nie opgelig kan word nie. As die stange van die kop ontkoppel is kan jy maklik voel of jy die wiel kan lig. In die geval waar die stange ontkoppel is kan jy sommer ook voel of daar nie slytasie is op die buste binne die kop nie. Met die stange gekoppel is dit moeilike om die slytasie te voel. Jy kan wel op die platvorm staan en hard teen die wiel stamp op die buitenste romp, die wiel kan effens skuif saam met die as (daar kan bietjie speling daar wees tussen die ratte of laers), maar mag nie lig nie, dan is een van die laers in die kop stukkend. Die rede vir die toets is om te verseker dat jou wiel nie môre langs die toring lê nie. As die voorste laer groet, sny hul baie maal die as af en val die wiel. Maak ook seker dat die spye/tappe waarmee die naaf aan die as vas is, goed vas is. Hulle is geneig om uit te skuif as hul nie reg ingesit is nie, of daar iewers iets los was. Dieselfde geld vir die spye/tappe wat binne die kop in die klein ratjies sit. Dit is baie goedkoper om slytasie betyds te ontdek en te herstel. Binne die kop is dit belangrik om seker te maak dat alle boude goed vas is. Die ratte moet reg opmekaar inloop en nie geslyt wees, veral nie oneweredig. Verskillende vervaardigers het verskillende maniere waarmee die werkende dele wat nie in die olie loop, geolie word. Maak seker dat olie verspeiding nog reg is. By die Climax is daar op sommige modelle 'n olie plaatjie wat saam met die stang vas is, en moet keer dat die olie nie langs die stang afloop uit die kop. Hierdie plaatjie is baie maal verkeer geïnstalleer. Maak seker dat hy heel is en nie begin skuur teen ander dele nie.
Andre: Die wiel en die stert is op só 'n manier aan die ratkas geheg dat die wiel, wanneer die wind té sterk waai, uit die windrigting weg gedraai word. (Die stert "klap toe", m.a.w. waar die stert normaalweg in die werkende posisie in 'n hoek van 90 grade tot die horisontale vlak van die wiel staan. Beweeg dit tot waar dit parallel aan die horisontale vlak van die wiel staan). Hierdie is 'n belangrike veiligheidsmeganisme. Daar is gewoonlik 'n sterk veer wat horisontaal vanaf die ratkas na die stert gespan is wat bepaal hoe gou die wiel uit die windrigting sal begin wegdraai. Gewoonlik is dit nie nodig om hieroor bekommer te wees nie, maar indien jy voel dat die wiel te gou uit die wind begin wegdraai kan jy die veer met die stelskroef stywer stel. Ek het ook al gesien dat die veer gebreek het en, instede daarvan om dit te vervang, is dit gewoon met 'n kabel of draad vervang is, wat beteken dat die wiel gladnie uit die wind kan wegdraai nie. Dis natuurlik 'n formule vir vernietiging van die wiel.
Lukas: Nie alle windpomp-vervaardigers het 'n stelskroef op die veer, wat eintlik jammer is. Wat belangrik is, is dat die stertveer nie te slap moet wees nie, anders slyt jou stertpen baie gouer op.
Andre: Ek het grootgeword in die Bosveld van die ou Wes-Transvaal (het trouens nog steeds belange daar), waar water skaars en diep is en daar soms vir dae lank windstiltes is. Enjins om mee water te pomp was nie so volop soos vandag se dae nie en om die windpomp te ontkoppel en 'n enjin met 'n "kragkop" aan die pype te koppel was in elk geval 'n hele paar uur se werk. Wind, water, windpompe en dors beeste was dus in ons daaglikse lewe van hoogste prioriteit. Ten spyte van die geweldige vordering in die tegnologie, bly die windpomp nog steeds die mees kostedoeltreffende manier om water vir veesuiping te voorsien - let wel - ek se nie die gerieflikste nie!
2 Februarie 2009