'n Boer se windpompsilinders en pype van PVC is goedkoper as die gewone geelkopersilinders en gegalvaniseerde pype. Daarby roes dit nie. Dit is ligter en makliker om te hanteer as die gewone soort.
Menige boer ken die gesukkel met pype wat deurskuur of deurroes, windpompsilinders waarvan die romp deurskuur en kleppe wat slyt. Die vervanging of herstel van hierdie pype en silinders is groot moeite en gewoonlik duur.
Hierdie probleme kan goedkoop en eenvoudig opgelos word met die planne van mnr. Sarel Cilliers van die plaas Welgedacht, in die distrik Burgersdorp. Hy het sy gewone windpomppype met PVC-pype vervang en silinders van 'n stuk PVC-pyp en gewone geelkoper-eenrigtingkleppe van plastiekpennetjies gemaak.
Vir hom is dit dikwels nie die moeite werd om die gewone geelkopersilinders reg te maak nie. 'n Nuwe geelkopersilinder kos R800 (een van 65 mm) tot R1 400 vir die groter silinders. Daarenteen kos die silinder van PVC-pyp minder as R300.
Die geelkopersilinders en -kleppe se werkleeftyd is dikwels heelwat korter as die PVC-silinder s'n. Sommige kopersilinders hou wel jare lank, maar soms moet 'n silinder binne 'n jaar of twee vervang word.
Volgens Cilliers werk sy eerste proefneming met 'n PVC-silinder en ronde eenrigtingkleppe met plastiekpennetjies nou al vier jaar lank sonder probleme. "Kleppe met plastiekpennetjies slyt nie so vinnig as die geelkoperkleppe met geelkoperpennetjies nie. Net die slytrubbertjies van die kleppe slyt weg, maar eers ná 'n hele paar jaar en dit is goedkoop en maklik om te vervang."
Vir die silinder word 'n PVC-pyp (klas 16, met groewe) met 'n binne- en buitemaat van onderskeidelik 63 mm en 75 mm en 400 mm lank gebruik. Hierdie silinder kan saam met die gewone gegalvaniseerde staalpype gebruik word.
Cilliers sê boere kan self die silinder aanmekaar sit en moet self uitwerk wat die koste in hul omgewing sal wees.
Die onderdele en die koste (BTW ingesluit) is volgens mnr. Francois Steyn, bestuurder van die Burgersdorpse handelstak van OVK, as volg:
'n Gewone draaibank of pyp-groefsnyer kan gebruik word om die groewe in die PVC-pype te sny. Cilliers het sy eie groefsnyer gemaak uit 'n verloopsok en 'n stukkie ysterpyp as 'n gids sodat die groewe nie skeef gesny word nie.
Die gewone gegalvaniseerde staalwindpomppype wat deurslyt of deurroes, het hy vervang met PVC-pype van 40 mm dik wat in lengtes van 3 meter gesny word.
Cilliers het 24 m PVC-pyp in een van sy boorgate. Die windpomp op hierdie gat stoot die water 600 m ver en 80 m hoog. In 'n ander boorgat het hy 36 m pyp. Die windpomp op die gat pomp die water regstreeks na 'n dam langs die boorgat. By nie een van die windpompe ondervind hy probleme met die PVC-pype nie.
Cilliers en mnr. Martin Marx, takbestuurder van 'n onderneming in Bloemfontein, wat hom gehelp het om die regte pyp te kies, sê as die skroefdraad reg gesny en die regte sokke gebruik word, is die kanse skraal dat die pype by die skroef sal bars as die waterdruk hoog is. Marx sê die gemiddelde boorgat is 30 m tot 40 m diep. In sulke gate sal die PVC-pype nie probleme gee nie. "Boere wat dieper wil gaan, moet eers by 'n PVC-handelaar vasstel hoeveel druk die verskillende PVC-pype kan hanteer."
Die PVC-pype roes nie, is lig en goedkoper om te vervang. 'n Klas 16-pyp (40 mm) kos maar R73,15 vir 6 m (ongeveer R12/m). 'n PVC-pyp van 3 m kos dus R36, wat R103 goedkoper is as die gewone gegalvaniseerde staalpyp (40 mm). Gewone staalsokke word gebruik om die PVC-pype te las. Hy gebruik verkieslik dié met groewe wat nie dwarsdeur gesny is nie, anders sluit die pype te styf teen mekaar vas en is dit te moeilik om die pype los te draai.
As 'n PVC-pyp gebruik word, moet ál die stange met 'n swart plastiekpyp (20 mm) oorgetrek word om te keer dat die trekstange die PVC-pype beskadig. Hy skuur die sokke en moere van die trekstange en die silinderstang rond om die pyp van 20 mm makliker daaroor te trek.
Hy het 'n spesiale klamp vir die PVC-pype gemaak. Dit vervang die bekende fabrieksvervaardigde toestel waarmee ysterpype gewoonlik uitgetrek word.
Die pype moet verkieslik met die hand vas- of losgedraai word omdat 'n bobbejaansleutel die pype kan beskadig. As die pype te vas is, gebruik hy twee of meer mense om dit met die hand los te draai. As die pyp dan nie loskom nie, span hy spesiale tange in wat hy gemaak het.
As die water teen 'n helling opgepomp word, moet 'n drukkop bo die T-stuk gemonteer word. Cilliers het sy eie drukkop gemaak wat minder as R42 kos. In die kleinhandel kos 'n drukkop ongeveer R200.
Sy drukkop bestaan uit 'n stang-sok met 'n moer en soolwaster, asook 'n koperwaster. Dit word vasgeskroef aan die trekstang wat bokant die T-stuk uitsteek. Om die drukkop te voltooi, skroef hy 'n kort stukkie PVC-pyp (40 mm) bo-oor die soolwaster en die sok in die T-stuk vas.
Cilliers eksperimenteer met 'n nuwe klep wat na verwagting minder as die helfte sal kos van die prys van 'n standaardgeelkoperklep (dit kos sowat R87 per klep). Sy klep lyk soos 'n suigstokkie met 'n dik steel. Die prototipe waarmee hy nou eksperimenteer, is van hout, maar die finale produk sal van Vesconite of geelkoper wees.
Die nuwe soort klep dien dieselfde doel as die standaardkleppe, maar sal volgens Cilliers 'n langer werkleeftyd hê. Die klep binne die silinder bestaan uit 'n gewone 32 mm-metaalwindpomppypsok (R10), 'n plastiekkoppelstuk (R5), wat ook die silindersool vasskroef en die suigstokkie (ongeveer R20).
Hierdie eenheid word aan die stange vasgeskroef en werk op en af in die silinder. Die suigstokkie seël op die plastiekkoppelstuk sodra die stange opbeweeg en maak weer oop sodra die stange afbeweeg. Vier of vyf gate in die wande van die windpomppypsok laat die water verby die eenheid met die sool beweeg.
Die tweede suigstokkie dien as 'n klep onderaan die silinder en seël ook op 'n plastiekkoppelstuk.
30 Julie 2004