
Die Melkprodusente-organisasie (MPO) meen die Mededingingsappèlhof se jongste beslissing in die melkkartelsaak gaan nie ‘n groot verskil aan die saak as geheel maak nie. Die Mededingingskommissie het in 2006 met die ondersoek teen die suiwelmaatskappye begin.
Die hof het Maandag ‘n aansoek deur Milkwood Dairy en Woodlands Dairy om appél teen ‘n beslissing aan te teken, verwerp. Die Mededingingstribunaal het in Augustus vanjaar beslis dat die saak teen die twee maatskappye nie geskrap mag word nie.
Die kommissie se me. Nandi Mokoena het toe gesê die hof het bevind dat hoewel hul ondersoek vaag was en van die inligting onregmatig bekom is, die saak moet voortgaan.
“Die week se bevinding gaan bitter min verskil aan die saak maak. Die MPO is egter bekommerd oor die invloed van moontlike boetes op die suiwelbedryf,” sê mnr. Bertus de Jongh, hoof uitvoerende beampte van die MPO. Die boetes kan tot 10% van die maatskappye se omset tydens die periode wat ondersoek word, beloop. Die tydperk wat deur die kommissie ondersoek word strek vanaf Maart 2002 tot en met Januarie 2006.
Volgens De Jongh dui beramings aan dat as die maatskappye die swaarste moontlike boetes opgelê word, dit sowat R1 miljard in totaal kan beloop. Die MPO meen dit kan twee gevare vir die suiwelbedryf inhou. Eerstens sal van die maatskappye nie kan oorleef as hulle sulke groot boetes moet betaal nie. Tweedens bestaan daar ook ‘n moontlikheid dat die maatskappye dié geld dan van boere, as prysnemers, sal verhaal.
Die saak duur voort.
Lees ook:
8 Desember 2009