
Hoewel die wenners wat aan die 20 ton-mielieklubkompetisie op Cradock deelgeneem het, nie die magiese 20 ton mielies per hektaar kon produseer nie, is hulle vol vertroue dat hulle die prestasie volgende jaar sal behaal.
Die wenners in die kompetisie wat verlede week tydens ’n galageleentheid op die dorp bekend gemaak is, was mnre. Wouter Heyns van die plaas Uplands (suidelike streek) wat 19,91 ton gestroop het, gevolg deur Kassie Blignaut en sy seun, Francois, van Lombardsrust met 19,28 ton. In die noordelike streek was mnr. David Collett en sy seun, Paul, van Speelmanskop die wenners met 19,15 ton en mnre. Erich Cloete en sy seun, FC, van die plaas Sanctuary tweede met 18,87 ton.
Die wenner van elke streek het R40 000 se saad, kunsmis en gifstof- en die naaswenners R20 000 se soortgelyke produkte ontvang.
Mnr. Dirkie Visser, besturende direkteur van Cradock Saadverspreiders wat die kompetisie gereël het, meen met die nuwe kultivars, kunsmis en beter bewerkingspraktyke is 20 ton mielies in die Groot Visriviervallei binne die bereik van baie boere.
Mnr. Paul Collett het gesê hy vermoed dat sy plantestand te hoog was en dat dat hy sy mielies te vroeg geplant het. Hy beplan om volgende seisoen meer kunsmis te gebruik.
Mnr. Wouter Heyns het gesê dat hy vanjaar met mielies op ’n vloedland moes meegeding en dat boere aan die suidekant van die dorp waar die gemiddelde temperature relatief hoër is, beter sal vaar. In 1994 kon hy net 10 ton mielies per hektaar stroop.
Die borge, Cradock Saak (hoofborg) en Pannar Saad, Monsanto, Pioneer Saad, Metson Manufacturing cc Mikro Elemente, BASF Chemiese Maatskappy, Profert Kunsmis en Wenken SA Landbou Chemiese Verspreiders het onderneem om die kompetisie vir die volgende vyf jaar te borg.
Klik net op die foto's hieronder om te vergroot.
Byskrif: Die naaswenner suid is van links mnre. Cassie Blignaut, Dirk Visser en Francois Blignaut.
Byskrif: Die algehele wenner suid is van links mnre. Dirk Visser en Wouter Heyns.
Byskrif: Die algehele en naaswenners noord is van links mnre. Paul Collett, David Collett, Dirk Visser, besturende direkteur van Cradock Saad, Erich Cloete sr. en FC Cloete.