
Teen die middel 1990’s het die vervaardiging van Musgrave-gewere in Suid-Afrika tot ’n einde gekom, hoofsaaklik weens mededinging van internasionale handelsname. Teen 2009 het mnr. Frik du Plooy begin om nuwe lewe in die Musgrave-nalatenskap te blaas. Hy het die regte op dié ikoniese handelsmerk van Denel bekom en die hergeboorte van dié gewere binne die strukture van sy onderneming, JJ Wapens, op Ermelo, begin beplan.
Volgens Frik is die moderne Ermelo Musgrave-gewere, wat in 2012 op Gauteng se HuntEx-ekspo bekend gestel is, so gewild omdat dit in die behoeftes van sportskuts én jagters voorsien. “Ons het ’n jaggeweer ontwerp wat voldoen aan skyfskietspesifikasies,” sê hy.
“Dit beteken jy het ’n uiters akkurate geweer wat jy vir jag én sportskiet kan gebruik.” Die Musgrave-fabriek is ’n familie-onderneming waar Frik se broer, Dirk, sy regterhand is. Die doel is tans om sowat 100 gewere per maand te vervaardig om by te hou met die voortdurende toename in die vraag.
Dirk maak dit egter duidelik dat hulle nie gehalte sal inboet net om produksie te verhoog nie. “Ons het besluit ons gaan stadig groei en maak soos die Italianers,” sê hy. “Hou dit in die familie en hou jou gehalte reg totdat jy gereed is vir die volgende stap.”