
Waar kom jou liefde vir seepmaak vandaan?
Ek moes in 2007 ’n rugoperasie ondergaan. Terwyl ek aangesterk het, het my suster, Karen, vir my ’n boek oor natuurlike seepproduksie gegee. Ná ’n week in die bed was ek erg verveeld en het besluit om te kyk of ek kan seep maak.
Ek het begin rondspeel en toe ek uiteindelik tevrede was met die resultate, het ek ’n paar kooksels gemaak en verkoop. Mettertyd het ek besef daar is ’n gaping in die mark vir prettige, interessante sepe van natuurlike bestanddele. Ek het weer begin eksperimenteer en kort voor lank met die kolwyntjie-reeks vorendag gekom. Dit was die begin van die hele koek-reeks.
Hoeveel seep maak jy nou?
Ek maak elke jaar sowat 4 000 koekies seep, plus duisende kolwyntjie-sepe. Ons maak ook rome, lyfskropmiddels en vloeibare seep.
Waar bemark jy dit?
Ek verkoop die seep deur my webtuiste, wat goed vaar. Ek woon ook vlooimarkte en ope dae by, wat help om die besigheid op die voorgrond te sit. Ek verskaf my produkte aan ’n paar winkels en boetieks in Suid-Afrika. Ek het advertensies in tydskrifte geplaas, maar eintlik is ek gelukkig, want die produkte verkoop hulself.
Skep jy werk?
Angilina is ’n plaaslike vrou wat al haar hele lewe op ons plaas woon. Sy het aanvanklik in ons tuin gewerk, maar ek het haar potensiaal raakgesien en besef sy het ’n oog vir detail, wat uitstekend is vir die besigheid. Sy help nou om die produkte te verpak en toe te draai. Sy weet net die beste is aanvaarbaar en gehaltebeheer is uiters belangrik.
Katie is my deeltydse assistent, wat alles doen waarvoor ek nie tyd het nie. Sy maak ook die mooiste skuimbomme (fizz bombs)! Aangesien ons op ’n plaas woon, het dit sin gemaak om plaaslike werkers te gebruik. Katie is ’n vriend se dogter. Ek glo dit is belangrik om jou te omring met mense wat soos jy dink en jou sterk punte verbeter en jou swak punte aanvul.
Wat maak jou suksesvol?
Plein hardkoppigheid en die onvermoë om “nee” as ’n antwoord te aanvaar.
Wens jy daar was iets wat jy geweet het voor jy jou eie onderneming begin het?
Ja, dat slaap iets van die verlede sou wees! Op ’n ernstige noot, ek wens ek het meer kleinsake-vaardighede gehad en kennis oor hoe om ’n besigheid te bestuur. Ek dink ’n sake-diploma of graad sou nuttig gewees het.
Kontakbesonderhede: Sel 084 400 2886 of 087 230 7305; webtuiste: www.riverleasoap.com.