
Bultfontein se Boertjiefees is ’n triomf vir plattelandse ondernemingsgees.
Terwyl talle dorpe se landbouskoue kwyn of nie eens meer gehou word nie, het een van Bultfontein se boere-egpare,Volla en Linda du Plessis van die plaas Anker, vyf jaar gelede besluit basta daarmee, ons gaan plan maak.
Hulle het besluit ’n jaarlikse kontreifees met ’n adrenalien-belaaide program in die plek van die plaaslike landbouskou is die oplossing.
'n Wenresep
Die syfers vertel die storie: In 2006, toe hulle 2 000 kaartjies weggegee het, het die eerste Boertjie-kontreifees 5 000 besoekers gelok, die volgende jaar was daar 9 000, en verlede jaar sowat 28 000.
Die uitstallerlys, met vertoners van oor die hele streek en ook uit die res van Suid-Afrika, het tot by die 300 gegroei. Die Du Plessis’s het intussen die Volla-saal gebou om die meer as 4 000 feesgangers te huisves wat saans kunstenaar-vertonings op die feesterrein bywoon.
Hulle het ook nog twee vertoonlokale, oor die 100 perdestalle, 400 hondehokke, ’n woonwapark, beesrestaurant en onderdak-skaapkrale opgerig, asook twee miniatuur-rugbyvelde vir die fees se gewilde bulletjie-rugbytoernooi en ’n netbalveld vir die pienkhandjie-netbaltoernooi aangelê.
Die fees het intussen in ’n omvattende gemeenskapsprojek ontwikkel waarop die kontrei se kuns, kultuur, toerisme en landbou bevorder word. Nuwe landbouwerktuie en toerusting word vertoon, en veeboere en perde- en honde-eienaars kry die geleentheid om hul diere te skou en te vertoon.
Dorp baat daarby
Die jaarlikse finansiële inspuiting baat die hele dorp. Die gastehuise, koshuis, hotel en alle ander verblyfplek is vol, en winkels en ander sake-ondernemings doen vir die duur van die fees flink sake.
Dit is ook ’n nuttige geldinsamelingsgeleentheid vir organisasies, soos skole en kerke. Hulle kry restaurante en ruimte op die fees en mag alle wins vir hulself neem omdat die fees as ’n projek sonder winsoogmerk bedryf word.
’n Groot eer het die Du Plessis-egpaar twee jaar gelede te beurt geval toe hulle die nasionale Inyathelo-toekenning vir gemeenskapsfilantropie in Kaapstad ontvang het. Hulle het 13 ander deelnemers in hul kategorie uitgestof.
Die dorp se distrikslandbou-unie, onder die leiding van ’n mede-boer, mnr. Herman Meiring, het hulle vir die toekenning benoem. Die kriteria was geldelike bydrae, omgee, liefde, ondersteuning, ondernemingsgees en gemeenskapsbetrokkenheid.
Liefdadigheid
Linda glo hul sukses met die Boertjiefees het die deurslag gegee. Verskeie liefdadigheidsprojekte word as deel van die fees aangebied. Hulle het onder meer al 30 rolstoele aan gestremdes uitgedeel, onder andere behoeftige kinders wat nog nooit ’n rolstoel gehad het nie.
Die plaaslike Rotariërs bedryf die groot kroeg, en kry al dié wins.
Vanjaar is hulle daarop ingestel om veral vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) geld in te samel, sê Volla. Saalperd-ruiters gaan ’n geldinsameling hou en die voorste vier rye by die Steve Hofmeyr-vertoning se kaartjie-opbrengs gaan aan Kansa geskenk word, sê hy.
Onder die aktiwiteite en kompetisies waarna feesgangers op vanjaar se Boertjiefees van 1 tot 4 September kan uitsien, is vertonings deur verskeie kunstenaars, ’n halfmarathon, ’n bergfietsrit deur ’n wildpark, 4x4-aktiwiteite, boeresport en kaskenades, ’n grassnyer-resies, sterkman-, armdruk- en potjiekoskompetisies, vlugbal en bottel-jukskei.
Genoeg aktiwiteite vir almal
’n Mnr. en Mej. Boertjie gaan aangewys word, en ’n baba- en ’n kleuterkompetisie gaan gehou word. Dit is benewens die gewilde jaarlikse bulletjie-rugby, ’n sewes-rugbytoernooi, pienkhandjie-netbal en die plaaswerker-sokkertoernooi.
Die krale vir die beeste, perde en bokke is reeds vol bespreek. Honderde Saalperde word onder meer verwag, asook Boerwindhonde wat aan dié ras se nasionale kampioenskappe sal deelneem.
Boere kan ook hul tjekboeke vir ’n veiling van uitsoek-bulle en -ramme die Vrydag saambring. Meer as 40 bulle van verskeie rasse gaan op die veiling aangebied word, asook sowat 30 ramme, sê Volla.
25 Augustus 2011