
Die Paarlse wynkelder Nederburg sal 'n reeks wyne spesiaal vir die FIFA-wêreldbeker bied. Die kelder het 'n ooreenkoms met FIFA in dié verband gesluit en mnr. Razvan Macici, keldermeester, sê die wyne sal plaaslik en in die buiteland beskikbaar wees.
Die reeks wyne, wat die oesjare van 2007 tot 2010 dek, bestaan uit 'n Sauvignon blanc, Cabernet Sauvignon en 'n droë rosé. Die betrokke bottels sal van herwinde glas gemaak word en die rosé en witwyn sal skroefdoppe hê.
"Ons eerste voorrangsaak is markte waar sokker 'n groot aanhang het, maar ons sal ons deur die vraag laat lei," sê mnr. Rudolph du Toit, bemarkingsbestuurder. "Die drie wyne wat die embleem van die 2010 FIFA-wêreldbeker sal dra, weerspieël Nederburg se kenmerkende kombinasie van vrugtigheid en finesse.
Hulle is terselfdertyd intens en elegant en uitgesproke Suid-Afrikaans deurdat die intense vrugtigheid deur 'n beheerste klassieke styl gebalanseer word. Hulle is fris en toeganklik, en ideaal saam met kos."
12 Junie 2009