
Die wenner in vanjaar se Santam Paarl Shiraz-uitdaging is Nederburg se 2007 Winemakers Reserve Shiraz. “Geure van ryp vrugte en bessies, kaneel, naeltjies en donker sjokolade is eie aan dié ryk, volronde wyn,” sê mnr. Razvan Macici, keldermeester.
Landskroon Paul de Villiers Shiraz 2007 het die tweede plek behaal en Rhebokskloof Black Marble Hill Reserve Syrah 2006 was derde. “Ons is altyd op soek na wyne wat die unieke Paarlse karakter weerspieël. Dit wil sê sterk ondertone van speserye, peper en fynbos. Die Nederburg-wenwyn spog beslis met dié eienskappe wat so eie is aan Shiraz wat in warmer gebiede voorkom,” sê mnr. Charles Hopkins, beoordelaar.
Seidelberg Wynlandgoed se 2009 Chenin blanc het in ’n ander kategorie as wenner weggestap met Boland Private Cellar Organic Chenin blanc 2009 in tweede plek en KWV Chenin blanc 2009 in derde plek. Kelderassistente het hul eie kompetisie gehad en mnr. Tony Lakey van Val de Vie het 31 teenstanders uitgestof om dié prys te verower. Mnre. Mervin George van KWV en Jimmy Albertus van Seidelberg was onderskeidelik tweede en derde.
Mnr. Samuel Viljoen van Nederburg verskyn op die meegaande foto met sy trofee.
3 September 2009