
Die Nederlandse span het sy eerste goue medalje by die Alltech Wêreld-perderuiterspele in Kentucky, Amerika, gewen.
Luidens ‘n verklaring het die span Dinsdag (28 September) die goue medalje in die dressage-wêreldkampioenskap by die ruiterspele verower.
Mnr. Edward Gal, die ruiter, het die eerste plek op die ranglys op die rug van Moorlands Totilas verower.
Bittersoet oorwinning
Die oorwinning word as bittersoet vir die span beskryf aangesien een van die perde Dinsdag gediskwalifiseer is.
Me. Adeline Cornelissen is tydens die oggendsessie van die kompetisie gediskwalifiseer nadat bloed in haar perd, Jerich Parzival, se spoeg gevind is. Die span se veearts het tydens ‘n ondersoek vasgestel dat dié bloed van ‘n klein kolletjie op die perd se tong afkomstig was.
Die hings het punte van 80% gekry toe hy gediskwalifiseer is. Mnr. Sjef Janssen, die hoof van die span, sê: “Ons is baie teleurgesteld, maar ons verstaan die reëls en aanvaar die besluit.”
Mnr. Stephen Clarke, een van die beoordelaars, moes die nuus aan Cornelissen oordra en beskryf dit as “die slegste oomblik van my loopbaan”.
Brittanje tweede
Brittanje het tweede gekom na ‘n uitstaande item deur me. Laura Bechtolsheimer en haar perd, Mistral Hojris.
Duitsland het die brons medalje verower. Dit is die eerste keer sedert 1970 wat dié land nie die afdeling gewen het nie.
30 September 2010