
Nog ‘n renoster is Woensdag (1 September) in KwaZulu-Natal deur wilddiewe geslag, sê Ezemvelo, die provinsie se natuurbewaringsdienste.
Dié witrenoster is die vyftiende renoster wat vanjaar deur wilddiewe in dié provinsie doodgemaak is. Luidens ‘n berig op Nuus24.com is die renoster se karkas in die Ndumo-wildreservaat in die noorde van die provinsie gevind.
Dié wildreservaat is op die Mosambiek-grens. Mnr. Jeff Gaisford, ‘n woordvoerder vir Ezemvelo, sê albei die dier se horings is afgesaag.
In kabelstrik gevang
Die renoster is na bewering reeds Dinsdag in ‘n kabelstrik gevang. Die strik is groot genoeg om ander diere soos seekoeie en buffels ook te vang.
NatGeo News Watch van National Geographic, berig dat meer as 180 renoters tot dusver vanjaar in Suid-Afrika vir hul horings doodgemaak is.
Mnr. Andre Snyman, stigter van die eBlockwatch-inisiatief, sê hy is veral bekommerd oor helikopters wat in die Limpopo-streek oor wildplase vlieg. “Maar ons het sterk netwerke wat wil saamwerk om die wilddiewe aan te keer.”
Neem aksie
‘n Lid van Landbouweekblad se Facebook-blad, me. Celesté Fritze, is so ontstoke oor renosterstropery dat sy in haar persoonlike kapasiteit ‘n petisie opgestel het om dié misdaad te help bestry.
Klik hier om haar petisie te onderteken.
2 September 2010