
Danksy die meelewing van twee boere van Coligny in Noordwes én die landboumaatskappy NWK Beperk op Lichtenburg is 52 ronde bale eerste graad-tef per vragmotor na die droogtegeteisterde Humansdorp in die Oos-Kaap gestuur.
Mnr. Kleinjan Pretorius van die die plaas Kaalkraal sê hy en sy seun, Bennett, het bloot gehoor gegee aan ’n versoek wat dr. Koos Coetzee van die Melkprodusente-Organisasie oor Radio Sonder Grense gerig het. Coetzee het boere met groot voerreserwes aangemoedig om hul eweknieë in die Suid-Kaap by te staan.
(Byskrif: Van links is mnre. Johan Bezuidenhout, bestuurder: korporatiewe bemarking van NWK Beperk, die weldoeners Kleinjan en Bennett Pretorius van Kaalkraal, Coligny, en Gerhard Jacobs, die vervoer-kontrakteur.)
Die Pretoriuse bedryf ’n saai- en beesboerdery en het onlangs grond bygekoop waarop ’n ou land met ‘n spilpunt op was. Hulle het besluit om vir die eerste keer in hulle lewe tef op dié land van 15 ha te saai. Hulle het 201 ronde bale van dié land gesny en besluit om ’n bydrae te maak om die nood in die Suid-Kaap te verlig.
Hy het met Coetzee in aanraking gekom en daarna ook vir mnr. Jan Grobbelaar, NWK se direkteur: graan, gepols om te help met die vervoerkoste. NWK het besluit om die volle vervoerkoste te dra en die logistieke afdeling het mnr. Gerhard Jacobs, ’n sub-kontrakteur van Coligny, aangestel om die tef te vervoer.
Die waarde van die tef is sowat R20 000 terwyl die vervoerkoste sowat R28 000 beloop.
3 Februarie 2010