
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (Sansor) het ‘n nuwe bestuurshoof aangestel wat vanaf 1 Desember dié pos sal vul.
Luidens ‘n verklaring is mnr. Gerrie Reitsma, wat al as lid van Sansor se direksie gedien het, in die posisie aangestel.
Reitsma het sy loopbaan in die saadbedryf as ‘n tegniese adviseur begin. Hy het al verskeie posisies by plaaslike en internasionale saadmaatskappye beklee, en het al op verskeie komitees by Sansor gedien.
“Die Sansor-direksie wens mnr. Reitsma baie geluk met sy aanstelling en glo dat die vertroue wat hulle, die Sansor-lede, en die saadbedryf oor die algemeen in hom het om voort te bou op die suksesse van sy voorgangers, ryklik beloon sal word. Ons glo dat Gerrie se aanstelling ’n nuwe era inlei en dat Sansor selfs ’n groter rol as primêre insetverskaffer gaan speel deur te fokus op nouer skakeling met die Regering, aanverwante organisasies en besighede in die landbou op alle vlakke,” sê mnr . David Malan, voorsitter van die direksie.
Mnr. Walter Loubser
Intussen tree mnr. Walter Loubser, wat die posisie die afgelope 10 jaar beklee, met Reitsma se aanstelling af.
Volgens Sansor was Loubser instrumenteel in die vestiging van die The African Seed Trade Association (AFSTA).
Onder sy bestuur het Sansor ook twee baie suksesvolle AFSTA-kongresse aangebied. Hy het met behulp van ‘n goeie span ook ‘n baie suksesvolle International Seed Federation (ISF)-kongres in Suid-Afrika aangebied. Dié kongres word as een van die belangrikste items op die agenda van die internasionale saadbedryf beskou en sowat 1 000 afgevaardigdes van 64 lande woon dit jaarliks by.
“Namens die Sansor-direksie wil ek vir Walter bedank vir sy groot bydrae tot die saadbedryf die afgelope dekade en wil hom ’n vrugtevolle aftrede toewens,” sê Malan.
4 Oktober 2010