
Die nuwe maatskappy KWV Beherend, wat nou ná KWV Bpk. se ontknoping die maatskappy se bedryfsaktiwiteite bestuur, het ’n nuwe direksie en voorsitter. Mnr. Danie de Wet, die KWV se voormalige voorsitter, het vandeesweek sy bedanking ingedien en is deur mnr. Thys du Toit vervang.
Du Toit dien in verskeie maatskappy se direksies en bestuur Rootstock Investments, ’n beleggingsmaatskappy, en was voorheen ’n dekade lank die hoof uitvoerende beampte van die Coronation-beleggingsfonds. De Wet was sedert 1996 ’n lid van KWV se direksie en het van 2004 af as voorsitter gedien.
“Dié jare was vir my enorm verrykend. Ek is trots op die KWV. In my tyd hier het ek wonderlike mense ontmoet en met hulle saamgewerk. Ek sal altyd die beste ambassadeur vir die KWV bly,” sê De Wet. Du Toit het op sy beurt die geslagte van mense wat tot nou by die KWV betrokke was, vir hul “passie en energie” bedank en vereer.
“Ons lewe in dinamiese tye en met die ontknoping van die KWV het ons nou die geleentheid om te hervorm en om verandering teweeg te bring. Daar sal baie geleenthede wees om die maatskappy se kliënte, verbruikers, aandeelhouers, personeel en ander belanghebbendes in dié proses met ons saam te neem. Die nuwe KWV is ’n betreklik klein besigheid, met ’n sterk grondslag en baie potensiaal,” sê hy.
Mnre. Niel Ellis, Philip Retief, Khutso Mampeule, Abrie Botha, Jannie Mouton, Antonie Jacobs, Chris Wiese en Thys Loubser, hoof uitvoerende beampte, dien in die nuwe direksie. Hulle sal hul plek op 18 Augustus inneem. Dit is ook wanneer aandeelhouers hul nuwe aandeelsertifikate in Capevin Beherend en KWV Beherend sal ontvang.
Op die meegaande foto: Die KWV is een van Suid-Afrika grootste wyn- en brandewynvervaardigers.
Foto: DIE BURGER
23 Julie 2009