
Die Landbouskrywers SA Noord is op soek na Suid-Afrika se top landboujoernalis. Vanjaar sal die organisasie, in samewerking met Sanlam/Santam en die Agri SA se Agri Securitas-trustfonds vir die eerste keer ‘n Joernalis van die Jaar aanwys.
Die toekenning is daarop gemik om erkenning aan joernalistieke werk, wat die beeld van Suid-Afrika se landbou en boere ten beste bevorder het, te gee. Die prysgeld vir die wenner is R15 000, waarvan R5 000 vir ‘n joernalistieke kursus van die wenner se keuse gebruik moet word.
Deelnemers moet die inskrywingsvorm voltooi en werk, wat na hul mening die Suid-Afrikaanse Landbou en die boer se beeld die beste bevorder het, daarby aanheg. Die sluitingsdatum is 30 Augustus.
Alle artikels wat tussen 1 Mei 2008 en 31 Mei 2009 gepubliseer is, kan ingeskryf word. Artikels, beeld- en klankmateriaal sal ‘n inskrywing moet vergesel vir oorweging. Bydraes in enige erkende landstaal, vergesel van ‘n verkorte vertaling indien die stuk nie in Engels is nie, is welkom.
Landbouskrywers SA Noord sal ook in eie reg joernaliste, wat aan die kriteria voldoen, kan nooi om in te skryf. Die inskrywings kan elektronies, per faks of per hand by die sekretariaat van Landbouskrywers SA, Junxion Communication, gelewer word.
Die wedstryd word deur die Landbouskrywers SA Noord beskou as ‘n uitbreiding van die jaarlikse stryd om die noordelike provinsies se Boer, Opkomende Boer en Landboukundige van die Jaar te vind. Enige lid van die Landbouskrywers SA Noord, asook ander joernaliste wat oor die landbou berig en skryf kan vir die wedstryd inskryf.
Die wenner van die toekenning sal tydens die Landbouskrywers SA Noord se Boer en Landboukundige van die Jaar glansgeleentheid op 2 Oktober aangekondig word. Inskrywingsvorms kan op die Landbouskrywers SA Noord en Agri SA se webwerwe gevind word.
‘n Paneel van beoordelaars, wat uit die Landbouskrywers SA Noord, Sanlam en Santam en die voorsitter van die Agri Securitas-trustfonds bestaan sal oor ‘n wenner besluit.
Navrae kan aan me. Magda du Toit, voorsitter van die Landbouskrywers SA Noord gerig word. Bel haar by 011 790 8254, stuur ‘n faks na 011 790 8431 of ‘n e-pos na magda.du.toit@monsanto.com vir meer inligting.
17 Augustus 2009