Altesame 525,7 miljoen liter wyn is uitgevoer. Me. Shiobhan Thompson, uitvoerende hoof van Wines of South Africa, skryf die groei grootliks toe aan ’n tekort weens ’n swak oes in Europa, wat in sommige dele die swakste in 40 jaar was.
Die gevolg was sterk jaar tot jaar groei in gevestigde en nuwe markte. Verkope aan Suid-Afrika se twee belangrikste markte, Brittanje en Duitsland, het gegroei met onderskeidelik 21% (tot 111,2 mljoen liter) en 24% (tot 96,5 miljoen liter). Uitvoer na Rusland het met 13% (tot 37,3 miljoen liter) gegroei en na Amerika met 37% (tot 31,9 miljoen liter).
Beter verspreiding en blootstelling
Thompson het die gesonde groei in Amerika verder toegeskryf aan beter verspreiding en volgehoue gunstige blootstelling in die druk- én digitale media. Grootmaatvolumes het verlede jaar 65% van alle wynuitvoer beslaan teenoor 59% die vorige jaar. Die uitvoer van witwyn het met bykans 18% (tot 254,6 miljoen liter) gestyg en rooiwyn met 22% (tot 197,9 miljoen liter). Die uitvoervolumes van Sauvignon blanc, Cabernet Sauvignon, Shiraz, Pinotage en Merlot het die meeste gestyg.
Thompson is huiwerig om te voorspel wat vanjaar gaan gebeur: Europa verwag ’n goeie oes, Suid-Afrikaanse uitvoer het oor die afgelope drie jaar sterk gegroei en dit is nog te vroeg om ’n oesskatting vir Suid-Afrika te doen. Sy hoop egter dat die goeie blootstelling wat Suid-Afrikaanse wyn oor die afgelope jaar gekry het, sal help om die mark verder uit te brei.