Almal, van verbruikers tot produsente, moet bewus gemaak word van hierdie nuwe vrugtevliegspesie, die indringervrugtevlieg (Bactrocera invadens), wat nie net groot skade aan vrugte-oeste kan aanrig nie, maar selfs lande se uitvoerstatus in gedrang kan bring.
Aan die woord is mnr. Jan-Hendrik Venter, adjunkdirekteur (Vroeë-waarskuwingstelsels) by die direktoraat plantgesondheid van die nasionale Departement van Landbou in Pretoria.
Die indringervrugtevlieg, met sy oorsprong in Sri Lanka, is eers só onlangs as twee jaar gelede wetenskaplik beskryf. Dit het plaasgevind nadat die vlieg drie jaar gelede vir die eerste keer op Afrika-bodem in Kenia opgemerk is. Sedertdien het dit baie vinnig versprei na Angola, Benin, Burkina Faso, Kameroen, Die Comore-eilande, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Ekwatoriaal-Guinee, Ghana, Guinee, die Ivoorkus, Mali, Mauritanië, Niger, Nigerië, Senegal, Sierra Leone, die Soedan, Tanzanië, Togo en Uganda. Verdere verspreiding op die vasteland vind steeds plaas.
Die vraatsugtige indringervrugtevlieg is, getrou aan sy naam, 'n aggressiewe indringerinsek met 'n baie hoë reproduksiepotensiaal. Onder die vrugsoorte waarop die insek reeds gekry is, tel sitrus, mango's, koejawels, piesangs, avokado's, tamaties, kasjoeneute, papajas, groenrissies en verskeie wilde Afrika-vrugsoorte.
Volgens Venter is die toename in wêreldhandel en toerisme 'n groot bekommernis in die bekamping van die insek omdat dit die risiko aansienlik vergroot dat besmette vrugte oor landsgrense heen in Suid-Afrika kan beland. Tanzanië en Angola is byvoorbeeld as't ware op Suid-Afrika se voorstoep.
Die beste manier om die verspreiding van die insek te stuit, sal wees om die vervoer van vrugte van een land na 'n ander in bagasie, sakke of voertuie te voorkom en om nougesette beheer oor kommersiële besendings vrugte uit te oefen.
Ingevolge wetgewing is dit 'n ernstige oortreding om plante of plantmateriaal na Suid-Afrika te bring sonder die nodige magtiging van die owerheid. Bagasie word gereeld by die grensposte en lughawens geskandeer en deur snuffelhonde ondersoek vir onwettige vrugte en ander plantaardige produkte.
Die wêreld se vrugtebedrywe ly elke jaar verliese van miljoene rande weens skade deur die verskillende vrugtevlieë wat een van die mees verwoestende vrugtesiekte is.
Die teenwoordigheid van die indringervrugtevlieg in naburige en ander Afrika-lande hou 'n ernstige bedreiging in vir kommersiële vrugte-aanplantings in Suid-Afrika. In die praktyk kan die teenwoordigheid van die indringervrugtevlieg in vrugte-aanplantings in Suid-Afrika lei tot 'n versteuring van handelsbetrekkinge en die opskorting van uitvoermarkte wat baie duur bestrydingsprogramme sal vereis. Die nuwe siekte kan ook lei tot kommer oor voedselsekerheid indien dit die kleinskaalse vrugteplase in die plattelandse gebiede besmet.
Die vroeë opsporing en identifikasie van die indringervrugtevlieg is die beste manier om die nuwe siekte vinnig en kostedoeltreffend uit te roei.
Venter sê juis daarom is die daarstelling van 'n opsporingsnetwerk as deel van 'n vroeë waarskuwingstelsel een van die sleutelprojekte van die Nasionale Plantbe-skermingsorganisasie van Suid-Afrika wat bestaan uit direktoraat plantgesondheid en die landbouprodukte-inspeksiediens van die Departement van Landbou.
Vir die opsporingsnetwerk word vrugtevlieglokvalle oor die lengte en breedte van die land gemoniteer. Daar is reeds in 2006 begin met die monitering van lokvalle vir die indringervrugtevlieg by hoërisiko-gebiede, soos grensposte, lughawens, hawes, gastehuise, hotelle, munisipale parke, stortingsterreine, diplomatieke sendings, sportstadions en strande sowel as in nywerheids- en landbougebiede.
- Navrae: Mnr. Jan-Hendrik Venter, tel. 012 319 6384 e-pos:janhendrikv@nda.agric.za.
Landbouweekblad, 7 September 2007.