Die Oesskattingskomitee is skynbaar een van die eerste belanghebbendes in die graanbedryf wat onder die aksies van 'n nuwe organisasie gaan deurloop en gaan glo gevra word om te ontbind. Die organisasie wat dié versoek gaan rig, is gestig om mielieboere te verteenwoordig wat die afgelope jaar groot verliese gely het.
'n Stigtingskomitee met onder andere sake- en regslui is twee weke gelede aangestel om boere te verteenwoordig wat meen hulle het groot verliese gely weens die verkeerde optrede van sekere instansies. Vandeesweek word besluit in watter formaat die organisasie sy inslag sal vind.
Dr. Jaco de Villiers, sake-konsultant en lid van die komitee, sê 'n brief word opgestel waarin die Oesskattingskomitee gevra word om te ontbind. "Dit is super-belaglik dat 'n boer moet sê hoeveel mielies hy op sy plaas het. Dit (die komitee) is nie bevorderlik vir 'n vryemark-ekonomie nie. Die oomblik wat 'n boer plant, het hy mos nog niks aan die mark aangebied nie. Ons gaan boere vra om nie verdere inligting aan iemand bekend te maak nie." De Villiers sê sy organisasie se standpunt is "strooptyd is nie verkooptyd nie".
Mnr. Willem Spangenberg, prokureur vir die organisasie en nog 'n lid van die komitee, sê egter geen finale besluit is geneem of 'n brief wel aan die Oesskattingskomitee gerig sal word nie.
By navraag het Graan Suid-Afrika gesê die Oesskattingskomitee vervul 'n belangrike rol in die mark. Dr. John Purchase, hoofbestuurder, sê Graan SA ondersteun die beginsel van die Oesskattingskomitee en dat sy organisasie met ander belanghebbendes in die bedryf saamwerk om die komitee se doeltreffendheid en geloofwaardigheid te verhoog. Mnr. Rodney Dredge, voorsitter van die Oesskattingskomitee, het in reaksie gesê hy is nie bereid om kommentaar te lewer op De Villiers se stellings nie.
Volgens De Villiers is " 'n klomp inligting ingesamel" oor boere se finansiële situasie en word daar ook 'n brief vir pres. Thabo Mbeki geskryf. In dié brief sal Mbeki glo versoek word om 'n moratorium op sekwestrasies te plaas. De Villiers sê dit is omdat finansiers boere glo gedwing het om hul mielies te verkoop toe pryse in die omgewing van R500 per ton en minder was. Hy sê gevalle bestaan waar finansiers self die graan gekoop het en nou voordeel trek uit die goeie mielieprys wat in die laaste ses maande meer as verdubbel het.
27 Januarie 2006