
Die oorskot melk en ander suiwelprodukte wat verlede jaar ondervind is, is verby. Daar is geen voorrade nie en die invoer van suiwelprodukte vir die eerste agt maande van die jaar, is heeltemal onder beheer, sê. mnr. Freddie van Zyl, voorsitter van die Oos-Kaap Melkprodusente-organisasie (MPO).
Van Zyl het ook gesê dat die insetkoste van melkboere begin daal het terwyl melkpryse oor ‘n wye front verbeter het. “Laer inflasie het ook tot laer rentekoerse gelei wat vir beide verbruikers en produsente voordelig is. Indien die plaaslike omstandighede van melkboere met die in die res van die wêreld vergelyk word, blyk dit dat Suid-Afrikaanse melkboere hulle in ‘n baie beter posisie bevind. In baie lande het die produsente melkprys met 50% geval en daar is nog geen tekens van herstel nie. Dit gaan meebring dat daar ‘n drastiese daling in suiwelvoorrade in die wêreld gaan wees,” het hy voorspel.
Van Zyl het gesê die Oos-Kaap se melkboere het een van die moeilikste jare agter die rug. ’n Erge droogte, lae pryse en styging in insetkoste, het boere onder groot druk geplaas. Dit het daartoe gelei dat nagenoeg 30 boere in die provinsie uit die bedryf getree het en daar nou net sowat 330 melkboere oor is.
12 Augustus 2009