
Die tekort aan silo’s en meule in die Oos-Kaap, veral in die voormalige tuisland Transkei, beperk landelike ontwikkeling, sê die program vir versnelde en gesamentlike ekonomiese groei (Asgisa) in dié provinsie. Die program het R7 miljoen opsy gesit vir die bou van silo’s en meule wat mieliemeel sal produseer, luidens ’n berig van BuaNews.
Dié projek is deel van Asgisa se droëland-program in die Oos-Kaap en mnr. Thukela Mashologu, projekbestuurder, sê dit is net die begin van ’n ambisieuse plan om belegging na die voormalige tuisland te lok, luidens ’n berig van Engineering News. “Silo’s en meule is belangrik vir die ekonomie aangesien dit kan help om armoede te verlig en voedselsekerheid te verbeter deur klein besighede te ontwikkel en werk te skep.”
Asgisa in die Oos-Kaap maak gereed vir sy tweede oes in 2010 en het sowat 18 000 ton mielies in sy eerste seisoen geoes. Dié oes is teruggehou deur infrastruktuur-beperkings aangesien die mielies regstreeks op trokke gelaai moes word.
Die bestuur van die silo’s en meule sal waarskynlik deur ’n vennootskap tussen Asgisa en ’n private maatskappy behartig word, sê Mashologu.
Bron:
4 November 2009