Sommige melkprodusente gebruik reeds massatenk bakteriologiese kulture om hulle melkkwaliteit te monitor. Bakteriologiese kulture as 'n hulpmiddel in die stryd teen mastitis het ook baie vangplekke, waarvan 'n paar kortliks hier bespreek sal word. Die interpretasie van die resultate deur oningeligte persone kan ook meer skade as goed doen.
Monsternemingsintervalle
Die vraag word dikwels gevra, "Hoe dikwels moet ek monsters uit my massatenk laat ontleed?" Die antwoord is: "So dikwels as moontlik!"
Hoe meer kere monsters uit die massatenk geneem en ontleed word, hoe meer bruikbaar sal die inligting vir die veearts wees - daagliks mag dalk onprakties wees, maar as dit weekliks of selfs maandeliks geneem kan word, sal 'n patroon in die uiergesondheidstatus van die kudde gou bepaal word. Monsters kan ook geneem en dan gevries word totdat die veearts vir sy maandelikse kuddebesoek kom.
Enkel-massatenkmonsters wat ontleed word kan gevaarlik wees, veral as die resultate geïnterpreteer moet word. Saam met die melkmonster se interpretasie moet massatenk somatiese seltellings, die melksisteem, huidige behandelings, ens., ook oorweeg word alvorens 'n aanbeveling gemaak word.
Metodes
Daar is tans geen bedryfstandaard vir die kweking van massatenkkulture nie. 'n Metode wat oor 'n tydperk ontwikkel is, is vanaf die skrywer beskikbaar. (Kontakbesonderhede onderaan artikel.)
Belangrike punte by die neem van die monster kan egter weer beklemtoon word:
- Meng die melk in die tenk vir ten minste 5 minute voordat 'n monster geneem word. Neem die monster altyd bo uit die tenk (nooit by die onderste uitlaat nie) deur 'n skoon, steriele houer te gebruik. Plaas hierdie monster dadelik in die yskas of vries dadelik totdat dit in 'n laboratorium uitgeplaat en gekweek kan word.
- Duplikaat monsters word dan in 'n laboratorium uitgeplaat en geïnkubeer vir 48 uur.
- Die gemiddelde tellings van die duplikaat monsters op die verskillende groeimediums word dan bepaal en aangeteken as totale bakteriële groei, aantal gram negatiewe bakteriëe, aantal koliforme organismes, aantal streptokokki en aantal staffilokokki.
- Verdagte Staphylococcus aureus en Streptococcus agalactiae kolonies word dan deur verdere metodes bevestig.
Hierdie prosedures gee dan vir ons 'n semi-kwantitatiewe aanduiding van die algemene bakteriële groepe in die massatenk.
Resultate
Bakteriese isolate vanuit die massatenk is tipies 'n heterogene mengsel van verskillende bakteriëe. Teoreties sal enige bakteriese isolaat vanuit die massatenk 'n aanduiding wees van 'n uierontsteking (klinies of subklinies) in een of meer koeie in die kudde. Die hoofrede hoekom ons massatenk monsters neem en laat kweek is om aansteeklike organismes soos Staphylococcus aureus en Streptococcus agalactiae te identifiseer. Die teenwoordigheid van hierdie organsimes in massatenk monsters dui gewoonlik op besmette kwarte in die kudde.
'n Paar kenmerke van sommige massatenk isolate word hieronder opgesom:
Streptococcus agalactiae
Al plek waar Streptococcus agalactiae vandaan kan kom as dit in 'n massatenk monster geïsoleer word is vanuit besmette kwarte. Streptococcus agalactiae besmette kwarte lewer 'n betekenisvolle bydrae tot verhoogde plaattellings asook somatiese seltellings. Bakteriese tellings mag so hoog as 20,000 tot 100,000 of meer CFU/ml wees, as gevolg van koeie wat hierdie organisme afskei. 'n Doeltreffende uiergesondheidsprogram met die klem op speendoop en totale droë koei terapie waar alle koeie met afdroog met die korrekte middel behandel word sal die organisme totaal uit die kudde verwyder mits die kudde geslote bly.
Staphylococcus aureus
In teenstelling met Streptococcus agalactiae, skei Staphylococcus aureus besmette kwarte bakteriëe slegs in klein hoeveelhede af. Staphylococcus aureus sal selde aanleiding gee tot verhoogde massatenk bakteriese tellings. Daar bestaan egter 'n sterk korrelasie tussen die aantal Staphylococcus aureus in die massatenk en die massatenk somatiese seltelling in Staphylococcus aureus besmette kuddes, met die voorbehoud dat Streptococcus agalactiae nie teenwoordig is nie. Die teenwoordigheid van Staphylococcus aureus in die massatenk volg as gevolg van dieselfde bestuursprobleme wat aanleiding gee tot Streptococcus agalactiae. Die implementering en onderhoud van 'n effktiewe uiergesondheidsprogram sal oor die algemeen die aantal Staphylococcus aureus besmette kwarte tot <1% in 'n kudde beperk.
Staphylococcus species
Staphylococcus spp. (staphylococcal spesies anders as Staphylococcus aureus) is gewoonlik flora afkomstig vanaf die buitekant van die speen. Hoë Staphylococcus spp. tellings in die massatenk mag dui op onvoldoende uiervoorbereiding en speen sanitasie. Uierinfeksies met hierdie organismes lei net tot 'n matige verhoging van 'n besmette kwart se somatiese seltelling (300,000/ml).
Omgewings streptococci en koliforme organismes
Isolasie van 'n groot aantal omgewings streptococci en koliforme organismes dui op swak higïene en skoonmaak van melktoerusting tydens en tussen melkings. Hierdie twee groepe deel 'n gemeenskaplike bron van besmetting naamlik beddegoed, grond, mis en water. Die melk van nat uiers, organiese opbou in die melksisteem, gebarsde speenhulse, te koue waswater, onvoldoende afkoel van melk en uierinfeksies mag alles bydra tot 'n verhoging van hierdie organismes. Verlaging van hierdie organismes in massatenk kulture sal heel eerste die evaluasie van alle omgewingstoestande in en om die melkstal behels.
Interpretasie van massatenkkulture
Die eerste vraag om te beantwoord as massatenk-kulture geïnterpreteer word is of dit positief is vir Staphylococcus aureus of Streptococcus agalactiae. Isolasie van een of albei hierdie organismes dui op besmetting in een of meer kwarte, maar massatenk monsters kan nooit gebruik word om die aantal besmette kwarte in die kudde te bepaal nie. Negatiewe kulture aan die anderkant beteken ook nie dat daar geen uierinfeksies in die kudde is nie.
Opsommend
Massatenk-kulture kan slegs gedoen word met inagneming van al die slaggate geassosieer met hierdie prosedure: 1. Massatenk-kulture is gebaseer op beperkte wetenskaplike data, maar massatenk data kan dien as 'n bron van inligting vir die teenwoordigheid of afwesigheid van 'n spesifieke bakteriese groepe asook die identifikasie van die oorwegende bakteriese groepe in die massatenk - en dus ook in die kudde. 2. Massatenk-kulture sal prakties meer van belang wees om 'n doeltreffende uiergesondheidsprogram wat reeds in plek is te monitor. Bestuursveranderinge (goed en sleg) sal gereflekteer word in massatenk kulture en hoe meer gereeld hierdie kulture gedoen word hoe groter sal die waarskynlikheid wees om veranderinge baie vroeg te identifiseer. Aanbevelings wat gemaak word na aanleiding van massatenk uitslae moet verkieslik net deur u veearts gedoen word, wat sy aanbevelings sal baseer op sy kennis van u kudde en met inagneming van verskeie ander faktore soos gasheerfaktore, omgewingsfaktore en patogene wat betrokke kan wees by mastitis in 'n kudde.
3. Uiters belangrik is dat massatenk-resultate nie kan dien as 'n vervanging van kwartmelkmonsters as deel van 'n totale uiergesondheidsprogram nie.
Massatenk-kulture kan slegs 'n waardevolle hulpmiddel saam met kwartmelk-monsters wees, maar sal nooit kwartmelkmonsters vervang as die insidens en prevalensie van mastitis in 'n kudde bepaal moet word nie.
Kontak gerus u kudde-veearts vir meer inligting.
- Lesers is welkom om die skrywer oor hierdie artikel of oor enige ander suiwelverwante aspekte te kontak.
Selnommer: 082 789 4499 of per e-pos by: chris.vandijk@pfizer.com
30 Mei 2008