Deur meer tyd aan 'n bestuurstelsel te bestee, kan boere verseker dat hul skaapboerdery meer lammers, meer wol en 'n groter wins lewer.
Elke skaapboerdery is 'n sake-onderneming. Die aspek wat die grootste enkele invloed op hoër wins het, is die aantal skape of lammers wat 'n boer verkoop. Dít hang weer af van die speenpersentasie (uitgewerk as lammers gespeen teenoor ooie gepaar). Daarbenewens speel die gehalte van die lammers ook 'n belangrike rol. 'n Boer behoort dus daarna te strewe om meer, maar ook beter lammers te teel.
In plaaslike toestande is die gemiddelde leeftyd van 'n ooi ses jaar. Indien 'n jong ooi die eerste keer op twee-tand-ouderdom (18 maande) gepaar word, lam sy die eerste keer op die ouderdom van twee jaar. Indien sy daarna jaarliks lam, sal sy vier verdere lamkanse hê. Gestel 'n boer behaal 'n speenpersentasie van 100, met ander woorde as die meerlinge bygetel en die vrektes afgetrek word en elke ooi een lam per jaar grootmaak, produseer 'n ooi vyf lammers in haar leeftyd. Dit staan bekend as haar leeftyd- of lewensdagproduksie.
'n Wolskaap lewer 'n bykomende produk, naamlik wol, waarvan die waarde afhang van die hoeveelheid en die gehalte.
Die boer kan lewensdagproduksie meet in getalle (met ander woorde die hoeveelheid lammers gespeen, die gespeende lammers se gewig of hoeveel wol geproduseer is) of in randwaarde.
Jy kan lewensdagproduksie verhoog deur:
- 'n Ooi vroeër in produksie te bring. 'n Skaap raak op ongeveer sewe maande geslagsryp. Indien 'n ooi goed uitgroei en dan al haar dekgewig van ongeveer 70 % van haar volwasse gewig bereik, kan sy die eerste keer op eenjarige ouderdom lam. Selfs indien sy op eenjarige ouderdom beset raak, en op tweetand lam, is dit steeds ses maande vroeër as in 'n tradisionele stelsel. Vir elke ses maande wat 'n jong ooi vroeër lam, sal daar in 'n kudde van 1 000 ooie en met 'n vervangingspersentasie van 25, altesaam 125 bykomende lammers per jaar wees. Teen R600 per lam, is dit 'n bykomende inkomste van R75 000 per jaar.
- 'n Ooi 'n jaar langer te laat produseer deur haar met byvoeding of "sagter" aangeplante weiding te help sodat haar tande nie so vinnig as op veldweiding slyt nie.
Bogenoemde twee punte speel dus 'n belangrike rol in die bepaling van die kuddesamestelling. Die ouderdomsverspreiding van 'n kudde en die persentasie produserende ooie teenoor die totale getal skape op die plaas (kleinvee-eenheid of droëskaapeenheid-ekwivalent) speel ook 'n groot rol in die winsgewendheid van die plaas.
Die boer moet winsgewendheid as wins per hektaar, wins per teelooi en wins per skaapeenheid (KVE of DSE) uitdruk om werklik te sien hoe ekonomies hy boer. Deur slegs een van die drie te gebruik, ontstaan 'n skewe beeld. Gestel 'n wolboer het min ooie en baie jong vervangingsdiere asook 'n klomp hamels, kan sy wolproduksie per teelooi dan heelwat meer as 10 kg per teelooi wees, terwyl 'n ooi slegs 4 kg tot 5 kg wol dra.
Die speenpersentasie kan verhoog word deur:
- Die besettingsyfer te verhoog. (Dit sal afhang van ramvrugbaarheid/rampersentasie, prikkelvoeding en die gebruik van koggelramme).
- Lamtydbestuur om lamvrektes te beperk.
- 'n Goeie gesondheidsprogram (inentings en dosering) wat gemik is op die vermindering van produksiesiektes, soos blou-uier en ensoötiese aborsie by die ooie, asook van lammervrektes as gevolg van byvoorbeeld bloednier en pasteurella.
- Die persentasie meerlinge op te stoot.
Daarbenewens kan die lewensdagproduksie verhoog word. Die grootste enkele faktor om dit te bereik, is om die ooi meer lamkanse in haar lewe te bied.
By melk- en vleisbeeste is die tussenkalfperiode 'n maatstaf wat al jare lank gebruik word om produktiwiteit te bepaal. Indien 'n ooi een maal per jaar lam, is haar tussenlamperiode (TLP) 365 dae en haar lewensdagproduksie vyf lammers as sy op 2 jaar vir die eerste keer lam en 100 % speen asook ses jaar oud word. Indien 'n ooi vier keer in drie jaar of elke nege maande lam, verlaag haar TLP tot 270 dae. Omdat daar dan meer paartye per jaar is, kom sy vroeër in produksie (op 11 maande) en kry sy meer lamgeleenthede in 'n leeftyd van ses tot sewe jaar.
Met 'n lamstelsel van drie maal in twee jaar is die TLP 240 dae en dan kan die lamkanse tot agt vermeerder.
In meer intensiewe stelsels, soos deur "Cornell" of in 'n sterstelsel, kan die ooi vyf maal in drie jaar lam (wat neerkom op 'n TLP van 219 dae en elf lamkanse). In die "ses weke ná lamtyd-" of in die melkerystelsel beteken dit twaalf lamkanse met 'n TLP van 188 dae.
As die invloed van meerlinge en beter bestuur bykom, produseer sommige ooie in sulke stelsels 15 tot 17 lammers in 'n leeftyd.
- Navrae: U plaaslike Pfizer-verteenwoordiger of dr. Dave Midgley, tel. 011 320 6122.
13 Julie 2007