Hierdie Noord-Kaapse graanboer plant graag die geel baster PAN 6126 omdat hy 'n premieprys kry vir die produksie van graan afkomstig van konvensionele mielies. PAN 6126 is goed aangepas en lewer deurgaans 'n stabiele prestasie onder besproeiing.
Vir mielies wat vry van genetiese modifisering is, kry hy 'n premieprys van R70 en meer per ton op die uitvoermarkte. Daarom plant hy graag uitsluitlik PAN 6126, 'n top konvensionele baster van Pannar, onder besproeiing aan. Dit is veralAfrika-lande wat dit as 'n vereiste stel dat die graanwat hulle invoer, GM-vry moet wees en hy voldoen graag daaraan, sê mnr. Jacques Faber van La Rochelle naby Douglas in die Noord- Kaap.
By hom presteer die ultravinnige, geel baster puik. Die gemiddelde opbrengs van 14 t/ha wat hy daarvan stroop, is gelyk aan sy omgewing se produksiepotensiaal. "Wat my veral van PAN 6126 beïndruk, is sy goeie staanvermoë. Ek ondervind ook dat dit nie so maklik noordelike blaarskroei (witroes), 'n blaarsiekte wat nou al redelik volop in my omgewing voorkom, opdoen nie. Daarby lewer dit uitstekende graan," sê Faber.
Omdat PAN 6126 'n ultravinnige groeier is, pas dit besonder goed in in my wisselbouprogram met koring en gars. Laasgenoemde word veral in die wisselboustelsel gebruik om koringsiektes, soos vrotpootjie en fusarium, te help beperk.
Faber vestig sy PAN 6126 teen 'n stand van 90 000 plante per hektaar in rye wat 910 mm uit mekaar is. Hy beskou die baster as goed aangepas en dit aard daarom uitstekend op sy grond wat besonder goeie dreineringseienskappe het. PAN 6126 is 'n ideale mielie en is baie vergewensgesind teenoor ligte foutjies wat soms met besproeiingskedules kan voorkom. Maar wanneer optimale verbouingstoestande heers, kompenseer dit uitstekend deur puik koppe te produseer, sê hy.
Op La Rochelle is die beste planttyd vir PAN 6126 vanaf 1 Desember tot en met 20 Desember. Met latere aanplantings daal die opbrengspotensiaal aansienlik. Selfs aanplantings wat teen die einde van die planttyd gemaak word, lewer reeds een ton per hektaar minder as gedeeltes wat vroeg geplant word.
Om vroeë beheer oor grondinsekte en stronkboorder te verkry, word alle mielies met 'n sistemiese insekdoder tydens planttyd gevestig. Die bestryding van stronkboorder wat laat in die seisoen skade kan veroorsaak, verg die toepassing van 'n bestuursprogram waarvolgens twee of drie chemiese bespuitings toegedien word.
Pannar bied 'n volledige pakket besproeiingsbasters van wêreldformaat. Dit lewer hoë opbrengste en boere van regoor die land wat hulle bevind in mielieproduserende gebiede waar besproei word, sal voordeel daaruit trek. Die pakket bestaan uit konvensionele en Roundup Ready-basters, asook basters wat weerstand bied teen stronkboorder. Dit sluit kultivars in wat vir verbouing as enkelgewas of ook vir 'n dubbel-oes, soos mielies ná koring, geskik is.
Ultravinnige groeier
Die geel mieliebaster PAN 6126 val in die klas vir ultravinnige groeiers en lewer 'n topprestasie waar dit teen 'n hoë plantestand, veral in die warm besproeiingsdele, beproef is. PAN 6126 is die konvensionele weergawe van PAN 6236B wat weerstand teen stronkboorder bied. Die twee kultivars vul mekaar uitstekend aan.
PAN 6126 lewer ook 'n goeie opbrengsprestasie en stabiliteit en is verseker 'n spanmaat in die hoofaanplanting. Dit het 'n uitstekende staanvermoë en droog vinnig af tot stroopgereedheid.
Navrae: U naaste Pannar-verteenwoordiger of landboukundige of Frikkie Lubbe, verteenwoordiger van Kimberley, sel 082 782 1287.
Hoofantoor, tel. 033 413 9500.
E-pos: infoserve@pannar.co.za
Besoek gerus Pannar se nuwe webwerf by: www.pannar.com
21 Augustus 2007