
Die huidige moeilike ekonomiese klimaat het Rainbow Chicken nie soveel soos sy mededingers geraak nie, luidens ‘n berig op Fin24.com. Suid-Afrika se grootste hoendervleisprodusent sê sy inkomste het in die ses maande tot 30 September tot R3,4 miljard gestyg.
Die maatskappy het in die afgelope maande verskeie gekrummelde produkte deur sy Farmer Brown-handelsmerk geloods en het sy volume van bevrore, gekrummelde voedsel in die afgelope jaar verdubbel. Dít terwyl sy mededingers se handelsmerke se markaandeel gekrimp het. Sy verkope van hoendervleis het in die bogenoemde tydperk met 4,7 % tot R2,6 miljard gegroei.
Hoewel Rainbow die resessie en die daling in verbruikersbesteding goed hanteer het, waarsku hy dat winste in die nabye toekoms sal begin daal, lui ‘n berig van Business Day. “As die ekonomiese resessie en statistiek oor werksverliese in ag geneem word is die verwagting dat verbruikersbesteding onder druk sal bly. Dít beteken ‘n afname in die vraag na hoendervleis.”
DIe invoer van hoendervleis van veral Brasilië en Argentinië het in die afgelope ses maande met 50 % gestyg weens die sterk rand, sê Rainbow.
Bron:
20 November 2009