Rekord-graanpryse is goeie nuus vir die landbou in sy geheel, maar storms is op etlike fronte oor onbekostigbare kos en voer aan die broei.
Die Verenigde Nasies het pas aangekondig dat landbou-kommoditeitpryse wat die hoogte in skiet, hom gaan dwing om voedselhulp te rantsoeneer. Terwyl sy Wêreldvoedselhulp-program (WVP) se begroting naastenby dieselfde gebly het, het graanpryse die afgelope ses jaar met gemiddeld 72% gestyg.
Die WVP het dringend gevra dat skenkerlande meer bydra om vir sy ingekorte koopkrag op te maak. Die agentskap het ook 'n spesiale taakgroep in sy hoofkantoor in Rome aangestel om oplossings vir die krisis te probeer vind.
Josette Sheeran, die WVP se uitvoerende hoof, het gewaarsku dat die wêreld se hongeres aan die toeneem is omdat mense wat vroeër nie honger geken het nie, deesdae nie meer genoeg kos kan bekostig nie. "Ons betree 'n nuwe era van honger," het sy gesê.
Mielie- en koringpryse het in 'n jaar rofweg verdubbel. Porsies word gesny, en daarmee saam die voedsaamheid van etes. Die WVP beraam byvoorbeeld dat, weens hoër markpryse, die kalorie-inhoud van 'n gemiddelde ete in landelike El Salvador vandag maar sowat 60 persent is van wat dit in Mei 2006 was.
Joseph Glauber, die departement se hoof-ekonoom, het op die USDA se jaarlikse vooruitskouingkonferensie in Washington DC gesê verbruikerpryse vir kos behoort in 2008 met tussen drie en vier persent te styg, vergeleke met 2007 se vier persent-styging.
28 Februarie 2008