
Sedert die aankoms in 2013 van Renault se Duster-sportnutsvoertuig (SNV) in Suid-Afrika is reeds meer as 12 000 van hierdie mededingers in die B SNV-segment plaaslik verkoop.
Hierdie flink Duster-verkope is waarskynlik nie bloot te danke aan die wêreldwye oplewing in die SNV-mark nie, maar ook omdat hierdie grondpadryer uitstekende waarde vir geld bied wanneer dit met ander direkte mededingers vergelyk word.
Tot dusver bestaan die Duster-reeks uit vier modelle met 'n petrol- of 'n dieselenjin, 4X2- òf 4X4-aandrywing en die keuse van twee afwerkingsvlakke vir die sogenaamde Expession- en Dynamique-weergawes.
Lees ook: Renault Kadjar kry waardepakket
Werkverrigting
Die 1.6 l natuurlik geaspireerde petrolenjin spog met 16 kleppe en lewer drywing van 77 kW. Dit is slegs as 4X2-weergawes beskikbaar in die Expression- en Dynamique-afwerkings. Die 1.5 dCi turbo-dieselenjin lewer 80 kW drywing (250 Nm wringkrag) en dit is slegs met Dynamique-afwerking as 'n 4X2- of ‘n 4X4-weergawe beskikbaar.
Terloops, Renault spog graag dat hierdie gesofistikeerde oliebranderenjin van hom op sy Formule 1-tegnologie geskoei is. Dit lewer uitstaande werkverrigting terwyl dit ook baie verantwoordelik met die verbruik van diesel omgaan... glo selfs só suinig as tot 4,8l/100 km in 'n gekombineerde siklus, sê Renault!
Die nuwe Duster 1.5 dCi Dynamique EDC (Efficient Dual Clutch) spog met 'n outomatiese sesgangratkas met twee koppelaars. Die twee koppelaars kombineer die gerief van outomatiese ratskakeling met die flink reaksie van 'n handratkas.
Lees ook: Renault se gewilde stoftrapper opgekikker
Doeltreffend
Hierdie outomatiese ratkas optimaliseer doeltreffendheid danksy die elektroniese beheereenheid wat deurgaans die mees geskikte ratverhouding vir gegewe omstandighede kies.
Hierdie outomatiese ratkas is slegs in die 1.5 dCi Dynamique met 4X2-aandrywing beskikbaar en kos R299 900. Die reeks se pryse strek van R239 900 vir die 1.6 Expression 4x2 tot die 1.5 dCi Dynamique 4x4 se R304 900.
Die Duster-reeks word vir 5 jaar of 150 000 km gewaarborg, daar is 'n diensplan vir drie jaar of 45 000 km (diensintervalle van 15 000 km) en 'n waarborg teen roes vir ses jaar. Ek hoor al klaar die eerste Duster-aanhangers vra wanneer die viertrekweergawe dan óók 'n outmatiese ratkas gaan kry … hoe lyk dit Renault?