
Kommer bestaan oor die ekonomiese volhoubaarheid van die renosterbedryf weens die skade wat renosterstropery aan die bedryf aanrig, sê die Private Renostereienaars-vereniging (PROA).
Mnr. Pelham Jones, voorsitter van die PROA, het dié kwessie tydens die Minister van Waterwese en Omgewingsake se renosterberaad in Pretoria onder afgevaardigdes se aandag gebring.
Laer verkope
Jones het tydens ‘n onderhoud met landbou.com opgemerk dat vertroue in die bedryf dringend herstel moet word. “In die afgelope drie maande is renosters by slegs een wildveiling verkoop, terwyl dié diere vroeër baie gereeld gekoop is.”
“Beleggersvertroue moet aangespreek word. Baie meen tans dat hulle nie tot R1 miljoen vir ‘n renoster gaan betaal as die dier moontlik deur stropers doodgemaak kan word nie,” sê Jones.
Sektor moet praat
Jones het tydens ‘n debat by die beraad gevra dat die afgevaardigdes ook samesprekings moet voer oor die ekonomiese volhoubaarheid van die renosterbedryf.
Hy sê die privaatsektor hanteer ‘n groot deel van die vraag en aanbod van renosters in die land, en dat tesame met oplossings vir renosterstropery wat by die beraad bespreek word, ook die ekonomiese krag van dié spesie en bedryf oorweeg moet word.
Die PROA vorm deel van Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA).
7 Oktober 2010