
Promosie-artikel
Die Suid Afrikaanse Reserwebank (SARB) het die markte pas verras met ’n verlaging in rentekoerse. Die verlaging van 25 basispunte beteken dat die repokoers verander is van 7.00% na 6.75%.
Meeste ekonome het verwag dat die repokoers onveranderd sou bly. Die president van die SARB, Lesetja Kganyago, meen die volgende faktore het bygedra tot die verlaging:
• ’n Beter inflasionêre omgewing: Suid-Afrika se Verbruikersprysindeks (VPI) het in Junie afgeneem tot 5.10%. Die syfer was 6.60% in Januarie en 5.40% in Mei.
• Gebrek aan ekonomiese groei: Suid-Afrika is amptelik in ’n resessie omdat die laaste twee kwartale se groei in bruto binnelandse produk (BBP) negatief was. Die eerste kwartaal se syfer was -0.30% en die tweede kwartaal se syfer was -0.70%.
• Die rand het relatief goed presteer ten spyte van rentekoerse wat in ontwikkelde lande verhoog word. In vorige artikels is verwys na impak van die rentekoersdifferensiaal. Inflasie mag toeneem sou die rand verswak as gevolg van ’n laer rentekoersdifferensiaal. Verder het die geldeenheid ook relatief goed presteer ten spyte van die onstabiele politieke omgewing.
Daar mag dalk ook politieke druk op die SARB wees om rentekoerse te verlaag. Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer, het onlangs die opinie gelig het dat die SARB se mandaat verander moet word. Meer spesifiek, sy het genoem dat die fokus van die SARB eerder verskuif moet word van inflasiebekamping (wat soms gepaardgaan met hoër rentekoerse) na ekonomiese groei, wat laer rentekoerse beteken.
Ongelukkig is die SARB se repokoers nie die enigste katalisator wat tot ekonomiese groei, of ’n gebrek daaraan, kan lei nie. Die onderstaande grafiek dui die vlak aan van die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BER) se sakevertroue-indeks: Hoër vertrouensvlakke korreleer met hoër ekonomiese groei, en andersom.
Wanneer sakelui meer vertroue in die ekonomie het, is besighede meer geneig om kapitaal te investeer. Dit is juis hierdie lae kapitale-investering wat tans bydra tot die huidige lae groeikoers in BBP.
Die goeie nuus is egter dat die SARB se leidende aanwyser aandui dat daar 'n oplewing mag kom in BBP-groei in die tweede deel van 2017.
Indien die aanwyser korrek is en daar wel groei in die BBP-groeikoers kom, kan dit die SARB oortuig om nog rentekoersverlagings aan te kondig. Die hoop kan net uitgespreek word dat laer rentekoerse en ’n verbeterde politieke omgewing sakelui sal oortuig om meer kapitaal in die ekonomie te belê.
Edwin Smit is ’n portefeulje-bestuurder by BVG Financial Solutions, ‘n gemagtigde finansiële diensteverskaffer van die FSB, met lisensienommer FSP 39889, en ook 'n geregistreerde JSE finansiële handelaar van BVG Commodities (lid van die JSE). Hy is 'n gereelde spreker op RSG Geldsake. Sy kontakbesonderhede is: (012) 484-4013 of edwin.smit@bvg.net. Die volgende dienste word gebied:
- Wisselkoersverskansing op BVG se Yield-X (JSE) lisensie. Lesers kan inteken op die daaglikse valutaverslag.
- Die ruil van fisiese kontant in samewerking met Absa en Investec: Omskakeling van rande na dollars, euros en ponde, en vice versa. Fondse word direk in kliënte se Absa- of Investec-bankrekening betaal: BVG Financial Solutions neem dus nie self die fondse in ontvangs nie.
- “Contracts for difference (CFD’s)”. Kliënte gebruik hierdie instrumente om hulle opinies in die markte uit te druk.
- Aandele-portefeuljebestuur in samewerking met Momentum SP Reid Securities. Lesers kan inteken op die daaglikse aandele-verslae.