
Dit klink asof 'n glas rooiwyn ook die tandarts vir ’n wyle kan weghou.
Alan Harman skryf navorsers aan Spanje se navorsingsinstituut vir voedselwetenskap sê hulle het bevind dat rooiwyn, sowel as druiwepit-ekstrak, kan help om gaatjies in tande te voorkom.
In 'n verslag in die Journal of Agricultural and Food Chemistry word genoem hul bevindings kan lei tot die ontwikkeling van natuurlike produkte wat tandheelkundige siektes met minder newe-effekte kan beveg.
Volgens die navorsers begin hierdie tandheelkundige siektes wat tot 90% van die totale bevolking beïnvloed, wanneer sekere bakterieë in die mond tot plaakvorming lei. Dis moeilik om hierdie bakterieë, wat plaak en sure tot gevolg het, vas te vat, en dit begin dan die tande beskadig.
Tandeborsel, fluoried in tandepaste, water en ander maatreëls se doeltreffendheid is beperk, aldus die navorsers. Volgens Victoria Moreno-Arribas het navorsing daarop gedui dat polifenole, druiwepit-ekstrak en wyn bakteriële groei kan belemmer, daarom is toetse hiermee gedoen.
Die navorsers het kulture gekweek van die bakterieë wat verantwoordelik is vir tandheelkundige siektes en dit ’n paar minute lank in verskillende vloeistowwe gedoop. Die vloeistowwe wat vergelyk is, was rooiwyn, rooiwyn sonder alkohol, rooiwyn waarby druiwepit-ekstrak gevoeg is en 12% etanol.
Van al die vergelykings was rooiwyn met of sonder alkohol en wyn met druiwepit-ekstrak die doeltreffendste om van die bakterieë ontslae te raak.