En maak geen fout nie, die situasie is kommerwekkend. Volgens die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) het speenkalfpryse in die afgelope paar jaar in reële terme eintlik afgeneem wanneer inflasie in ag geneem word.
Dit is ondanks die volgehoue groei in die waarde van Suid-Afrika se beesvleisuitvoer, al het bek-en-klouseer die uitvoervolumes geknoei. Dit is dus geen wonder nie dat boere sukkel om die somme te laat klop met insette wat nou kwaai styg nie. Die onverkwiklike werklikheid waarin beesboere verkeer, is op die onlangse Veeskool op Aldam op ontnugterende wyse blootgelê. Veral toe van die wêreld se invloedrykste beesvleisuitvoerders hul stories begin vertel.
Die Brasiliane het hul reuse-uitvoerbedryf beskryf wat miljoene ton betreklik goedkoop beesvleis in die wêreldmark pomp. Uitvoer maak 20% van hul produksie uit vergeleke met 10% in Amerika en 4% tans in Suid-Afrika. Maar die All Blacks van die wêreld se beesvleisuitvoerders bly die Australiërs. Hul gediversifiseerde, genuanseerde en uiters winsgewende bemarkingstrategie behels alles van die uitvoer van lewende diere tot hoëwaarde-keursnitte na plekke met baie geld, soos China.