Dit is toe dat Peel met sy nege beginsels vir volhoubare polisiëring vorendag gekom het. Die belangrikste is dat die bestaansreg van enige polisiemag gewortel is in gewone mense se begrip dat dit waarde vir die hele samelewing het. Hulle gee die staat dus in wese toestemming om hulle te polisieer.
Peel sou dus verstaan hoekom dinge so begin uitrafel het met Suid-Afrika se staat van inperking. Die regering doen nie meer moeite om sy besluite te verduidelik nie, maar vaardig edikte uit.
Die beginsel dat alle interaksie wedersydse voordeel moet inhou om op lang duur volhoubaar te wees, soos Peel besef het, vind sy suiwerste uitdrukking in die natuur. Soos enige herlewingsboer ’n mens geesdriftig sal vertel, is natuurlike stelsels juis ’n web van wedersydse voordeel. Met hul urine en mis bemes groot herbivore die plante wat hulle bewei, terwyl hul speeksel plantegroei stimuleer.