
Daar was vrese dat hierdie byeenkomste die verspreiding van die koronavirus kon aanhelp. En dít net twee dae voor die eerste konferensie op Reitz sou begin! Proewe is reeds maande gelede geplant, besoekpunte op plase is netjies gemaak, kos is voorberei en die sale op die onderskeie terreine is gereed gemaak vir die honderde konferensiegangers.
Ná maande se harde werk en die groot afwagting is dit uiteraard ’n baie groot teleurstelling, maar almal het moedig probeer om die beste van ’n slegte saak te maak. Een Amerikaanse spreker het ons ook verseker sy verstaan, ná die ontbering van ’n 14 uur lange vlug na Suid-Afrika. Kort daarna het sy gehoor die konferensie in Kanada waarheen sy sou terugvlieg, is óók afgestel!
Die teleurstelling van konferensiegangers was Landbouweekblad se eerste blootstelling aan die sosiale ontwrigting van hierdie gesondheidskrisis op mense. Daar is ook die drastiese ekonomiese impak, wat Suid-Afrika se stotterende ekonomie kwalik kan bekostig. Ons moes kaartjiegeld terugbetaal en die koste verbeur van verblyf en vlugte, terwyl die verliese net opgehoop het.
Die rimpeleffek van hierdie haas ondenkbare situasie gaan tot die laaste uithoek van die ekonomie uitkring. Daar gaan werklike pyn wees — werkverliese, bankrotskappe en verdiepende armoede.
Verlede Sondag se afkondiging van ’n ramptoestand deur pres. Cyril Ramaphosa het ons ietwat beter laat voel oor ons besluit, maar ook die erns van die situasie beklemtoon. Dit kan voel of alles ’n oorreaksie is, maar ’n mens hoef net te kyk na hoe die pandemie in lande soos Italië buite beheer is om te besef ’n oorreaksie is die beste uitkoms waarop jy kan hoop.
Die groot gevaar is dat besmettingsvlakke só handuit ruk dat die land se gesondheidsdienste oorweldig word. Namate die situasie vererger, kan gesondheidspersoneel ook ál sieker word. Dan gaan Suid-Afrika in ’n onbestuurbare afwaartse spiraal beland. Die wêreld sal nooit weer dieselfde wees nie.
Aan die een kant is daar die betreurenswaardige werklikheid dat die land se gebeurlikheidsfondse, wat die nasionale versekeringspolis teen sulke dwarsklappe behoort te wees, grootliks op vrot staatsondernemings geblaas is.
Aan die ander kant sê openbare gesondheidspesialiste dat Suid-Afrika met sy hoë voorkoms van virale siektes soos MIV en tuberkulose en gebeurlikheidsplanne om die bedreiging van ebola te bestuur, in ’n baie beter posisie is om Covid-19 te bestuur as die meeste Eerstewêreldlande, waaronder Amerika.
Ekonomies gesproke is groot strukturele skuiwe ook op pad. Lande gaan noodgedwonge hul ekonomiese afhanklikheid van invoer van en uitvoer na ’n enkele ekonomiese supermoondheid, soos China, in oënskou moet neem. Miskien is die heel goedkoopste T-hemp nie die beste opsie nie. Miskien is ’n ietwat duurder een wat in die Kaap vervaardig is, op die lang duur beter en meer volhoubaar. Of hoe?
Namate mense hulself sosiaal gaan begin isoleer, gaan hulle straks weer ontdek wat werklik saak maak in die lewe. Miskien is daar tog iets gunstigs in dié hele ongemaklikheid. Die droogte het gewys hoe krisisse die heel beste uit mense na vore kan bring. Miskien kom Suid-Afrika tog beter aan die ander kant van hierdie affêre uit. Bly intussen asseblief veilig.