Die Tshwane-varsproduktemark, wat aan die munisipaliteit behoort, het dringende instandhouding nodig. Met ’n jaarlikse omset van R3 miljard is dit, naas Johannesburg, die grootste mark in Suid-Afrika. Die laaste poging tot behoorlike instandhouding was vier jaar gelede, en sedertdien het dinge lelik agteruitgegaan.
Van der Nat sê die toestande is nou só haglik dat agente skaars hul werk kan doen, en dit plaas die mark se voort- bestaan in die weegskaal. Die frustrasie is dat die meeste probleme maklik opgelos kan word. Dit sluit in onvoldoende higiëne op die markvloer, plaagbestryding wat ontbreek, en gebrekkige veiligheid vir mense wat by die mark werk.
Daar is ook die besendingsbeheerstelsel wat nog nie in werking gestel is nie, en vervalle infrastruktuur, soos by die rypmaaksentrum, en ’n bedenklike dreineringstelsel. Van leierskap is daar nie veel sprake nie. Dit het nie veel gehelp dat die stadsraad sedert verlede November disfunksioneel geraak het toe die ANC die DA uit die kussings gelig het nie.