“Noem dit eerder ‘goedkoop boer’ of ‘maklik boer’,” sê hy laggend, heel in sy skik met sy grappie. Hy het natuurlik ’n punt beet. Oor die jare is ons al beskuldig dat ons “die jong manne vertel hulle hoef nie meer te rip nie”, en ek vind daardie ou koöperasiegrap nogal snaaks oor die bewaringsmanne wat stilletjies in die nag moet gaan rip wanneer Buurman reeds knus agter Mamma se rug lê.
Die goeie nuus is dat dié boere ook maar vroeg kan gaan slaap, want jaar ná jaar word boere op ons herlewingslandboukonferensies gemaan om nie kitsoplossings te verwag nie.
Beproef dinge eers op klein skaal, kyk of dit werk, en ja, rip wanneer dit nodig is, bly die boodskap. Soos my boerepel van die Swartland altyd sê: “Bewerk net so vlak as moontlik en so min as moontlik.”