Op besoek uit Amerika waar hy doenig is met dataverwerking ná sy graad in astrofisika, gesels ons lekker oor ’n glasie wyn oor die kulturele verskille tussen ons en sy nuwe tuiste.
Hoe ons gewone Amerikaners altyd as heel aangenaam ervaar, veral die verskeie boere wat ons oor die jare Suid-Afrika toe gebring het vir konferensies, vertel ek hom. Ordentlike mense.
Waar ons wel verskil, vertel hy my weer, is hoe Amerikaners sukkel om saam in ’n span te werk. Of dit nou op universiteit of tans by sy werk is, hul hele ingestelheid is op individuele sukses. Om altyd self te wen, ongeag die soms gemeenskaplike koste.