Die parkeerterrein was al vroegoggend vol, en tot sover as Struisbaai was daar nie blyplek vir ’n muis nie. Benewens die kans om mekaar weer ’n bietjie in die oë te kon kyk oor ’n koppie koffie, is dit altyd lekker om ’n fisieke vergestalting van ons bedryf te sien.
Die besef dat die landbou nog ’n besonderse vlak van kundigheid aan Suid-Afrika beskikbaar stel. Die gemoedsrus dat ons altyd nog ’n plan sal kan maak. Om vanjaar die Merino Classic op Nampo Kaap te kon sien, was ook baie spesiaal.
Dit is immers die distrik waar Michiel van Breda in 1817 vir die eerste keer kommersieel met die Merino geboer het. Heel gepas bly Bredasdorp die grootste wolproduserende distrik in die land.